E-tol: AfriForum hou regstappe terug ná minister kennisgewing onttrek

AfriForum gaan sy voorgenome regsaksie oor die heffing van ʼn sogenaamde straftarief uitstel. Dit volg nadat die minister van vervoer, Sbu Ndebele, kennisgewing oor e-tol-tariewe amptelik in die Staatskoerant teruggetrek het. Die “straftarief” stel voor dat R1,75 per kilometer van motoriste verhaal word wat nie vir e-tol geregistreer het nie.

Die tariewe-kennisgewing, waarvan die “straftarief” deel was, is op 13 April vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer en op 31 Mei teruggetrek. Dit het gevolg nadat AfriForum op 15 Mei ʼn prokureursbrief aan die minister van vervoer gestuur het om te sê dat AfriForum regstappe sou doen indien die kennisgewing nie teruggetrek word nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die terugtrekking van die kennisgewing verwelkom. Volgens hom sal AfriForum die situasie fyn dophou, sodat stappe gedoen kan word indien die “straftarief” weer deel van enige toekomstige kennisgewings word.

“Die terugtrekking van die tariewe-kennisgewing bied nou aan AfriForum se regspan die geleentheid om as vriend van die hof insette te lewer in die saak waarin die regering in die konstitusionele hof appèl aanteken teen die tussentydse bevel wat teen die implementering van die e-tolstelsel toegestaan is,” het Kriel gesê.

Volgens Kriel is dit belangrik dat die konstitusionele hof daarop gewys word dat die hofsaak teen e-tol nie die regering se funksie as beleidmaker aantas nie, maar eerder daarop gemik is om seker te maak dat die grondwet en ander wetgewing nie tydens beleidsimplementering ondermyn word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.