E-tol: AfriForum doen stappe teen regering se appèl

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het as volgende stap in die organisasie se stryd teen die omstrede e-tolstelsel, aansoek gedoen om as vriend van die hof toegelaat te word. Dit is vir die konstitusionele hofsaak waarin die regering appèl aanteken teen die interdik wat die Noord-Gautengse hooggeregshof toegestaan het teen die implementering van die e-tolstelsel op Gautengse hoofweë.  AfriForum se hofstukke is reeds op alle partye in dié saak bedien.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wil sy organisasie met hierdie stap seker maak dat bykomende inligting voor die hof geplaas word, wat sal uitwys dat die regering mistas deur aan te voer dat die interdik teen e-tol daarop neerkom dat die hof inbreuk maak op die regering se mag om beleid te formuleer.  “Geen hof skryf regeringsbeleid voor nie, maar wanneer die implementering van enige beleid egter in stryd is met die grondwet of wetgewing, het die howe ʼn duidelike grondwetlike mandaat om toe te sien dat die grondwet en wetgewing eerbiedig moet word,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat die regering eerder moet toesien dat die beleid wat hulle implementeer nie die grondwet en wetgewing minag nie.  “Die regering bedreig die oppergesag van die reg deur voordurend die howe die sondebok vir die regering se miskenning van wetgewing te wil maak,” het Kriel bygevoeg.

AfriForum het weer by monde van Kriel ʼn beroep op motoriste gedoen om steeds te wag vir die uitslag van die komende regsaksies voordat hulle besluit of hulle vir e-tol gaan registreer of nie.  Volgens Kriel het AfriForum besluit om nie voertuie wat vir die organisasie se werksaamhede gebruik word, vir e-tol te registreer nie.  “Indien genoeg motoriste uit protes ook nie registreer nie, sal dit Sanral dwing om weer te besin oor die kostedoeltreffendheid van die e-tolstelsel as ’n verhalingsmeganisme,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.