E-tol se betaalstelsel is gereed

e-tolDie Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) verwag dat die invordering van e-tol glad sal verloop, het Dipuo Peters, minister van vervoer, Sondag gesê.

“Die stelsel is gereed. Ons verwag dat die proses van 3 Desember af glad sal verloop,” het Peters aan verslaggewers gesê. Die perskonferensie het by Sanral se kantoor in Midrand, Gauteng, plaasgevind vanwaar die e-tolstelsel bedryf sal word.

Die stelsel sluit nood- en voertuigsleepdienste op die provinsie se snelweë in. Hoëgehaltekameras is op die tolhekke aangebring en sal by die bedryfsentrum gemonitor word. “Hierdie dienste sal 24 uur per dag bedryf word. Dit is maar van die voordele om die tolpaaie te gebruik,” het Peters gesê.

Die stelsel is al die afgelope 18 maande in werking, en Sanral kon die stelsel toets sonder om padgebruikers hiervoor te faktureer.

“Ten minste 700 000 mense het reeds vir e-tol registreer,” het Nazir Ali, hoof uitvoerende beampte van Sanral, gesê. “Ten minste 100 000 mense het tussen Oktober en November registreer toe ons die tariewe aangekondig het. Ons verwag dat nog mense hul e-tolskyfies sal aanskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.