E-tol-vervolging: JPSA glo met regstappe gedreig

etolhekke in gautengDie prokureurs van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het glo die Justice Project SA (JPSA) met regstappe gedreig nadat die organisasie Vrydag duidelikheid oor e-tol-vervolging geëis het.

Howard Dembovsky, woordvoerder van die JPSA, het Vrydag gesê die beoogde prosesse om diegene te vervolg wat nie vir die Gautengse e-tolstelsel gaan betaal nie, is onduidelik. Hy het gesê tot dusver is net ‘n onbepaalde skuldinvorderingsproses voor vervolging, genoem. “Weens die verwarrende inligting wat versprei word, is ons met geen ander keuse gelaat nie as om ons prokureurs opdrag te gee om ‘n verduideliking te eis van die betrokke owerhede. Daar heers ook ʼn doodse stilte van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oor dié aangeleentheid,” het Dembovsky gesê.

Die JPSA het Vrydag ʼn brief aan Nazir Alli (Sanral se uitvoerende hoof), Dipuo Peters (die minister van vervoer), Jeff Radebe (die minster van justisie), en Mxolisi Nxasana (nasionale direkteur van Openbare Vervolging) gestuur. Die JPSA het Sanral versoek om die presiese wetlike en administratiewe prosesse te verduidelik wat gevolg gaan word om e-tol van mense te verhaal wat nie betaal nie. Dembovsky het verlede week gesê indien die JPSA nie teen Vrydagmiddag ʼn antwoord ontvang nie, hulle die hooggeregshof gaan nader vir duidelikheid.

Die JPSA het Vrydagmiddag ʼn antwoord van Werksmans Prokureurs, wat Sanral verteenwoordig, ontvang. Volgens dié skrywe is alle inligting reeds in verskeie staatskoerante gepubliseer, en indien die JPSA ʼn aansoek by die hof indien, sal Sanral ʼn koste-toekenning teen die JPSA eis.

“Ons verstaan nie waarom die prokureurs nie eens gepoog het om ‘n enkele vraag te beantwoord nie, en ons boonop in die skrywe gedreig het,” het Dembovsky Maandag gesê. “Ons wil net duidelikheid hê van alle partye wat direk betrokke is by e-tol, watter prosesse gevolg gaan word om e-toloortredings te vervolg. Afgesien van die feit dat motoriste nie wettiglik verplig is om ‘n e-tolskyfie te kry of by Sanral te registreer nie, is nie een van die kwessies waaroor die JPSA navraag gedoen het, in enige van die staatskoerante aangespreek nie,” het hy gesê.

Dembovsky voer aan die dreigement van ‘n kostebevel teen JPSA is nóg ‘n demonstrasie van die boelietaktiek wat Sanral regdeur die proses gebruik het.

“Ons het ons regspan opdrag gegee om wéér ʼn brief aan al die betrokke partye te rig en ʼn behoorlike, verstaanbare en sinvolle reaksie van hulle te eis. Indien hulle reaksie nie bevredigend is nie, sal ons steeds oorweeg om die hooggeregshof te nader vir duidelik oor dié aangeleentheid.”

Peters het op 20 November aangekondig dat die e-tolstelsel Dinsdag in werking sal tree.

Vusi Mona, woordvoerder vir Sanral, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Lees ook: 
JPSA soek klaring oor e-tol-vervolging

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.