“E-tolgeveg nog nie verby nie” – DA

etolhekke in gautengDie DA het Donderdag gesê die stryd teen die omstrede e-tolstelsel op Gautengse hoofweë is nog nie verby nie.

“Ons het besluit om op te tree teen die mees omslagtige en duurste stelsel, wat net tot voordeel van sekeres strek, en nie die meerderheid mense in die provinsie in ag neem nie,” het Mmusi Maimane, die woordvoerder van die DA, tydens ʼn perskonferensie gesê. “Ons voel daar was van die begin af ‘n fundamentele fout in die proses.”

Hy het gesê die DA het Woensdag ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof ingedien om die grondwetlikheid van die wetgewing oor die e-tolstelsel te betwis.

Die DA is van mening dat die wetsontwerp verkeerdelik deur die parlement goedgekeur en deur Zuma onderteken is.

Die party voer aan dat die Grondwet onderskeid tref tussen die wetsontwerpe wat ‘n impak het op die nasionale regering en wetsontwerpe wat ʼn impak het op die provinsiale regering.

Maimane het gesê dié wetsontwerp is verkeerdelik aangedui as ʼn nasionale regeringskwessie wat deur die nasionale regering hanteer moet word, waar dit eerder deur die provinsiale regering hanteer moes word. “Die Gautengse wetgewer moes die geleentheid gehad het om vir of teen die wetsontwerp te stem,” het hy gesê.

“Ons glo dat dié fout verhoed het dat die provinsiale wetgewer hieroor ‘n besluit kan neem namens die mense wat die ergste daardeur geraak word,” het hy gesê.

“Die huidige wetgewing bied aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) die mag om Gauteng en hoofweë in elke ander provinsie te tol.”

Zuma het op 25 September die wetsontwerp goedgekeur wat die groen lig vir Sanral gegee het om met die e-tolstelsel voort te gaan.

Die hoogste hof van appèl het in Oktober ʼn aansoek van die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se e-tolstelsel van die hand gewys. Outa se argument was dat Sanral en die regering nie die behoorlike prosesse van openbare deelname gevolg het nie. Outa het op 18 Oktober gesê hulle het nie meer fondse om die saak verder te beveg nie.

Maimane het gesê die DA se aansoek verskil van Outa s’n omdat dit die wetsontwerp betwis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.