E-tolmaatskappy ontken enige verbintenis aan wapentransaksie

Kapsch TrafficCom, die Oostenrykse maatskappy wat die tender vir die e-tolstelsel ontvang het, het ontken dat hulle enige onreëlmatige verhouding het met die Sweedse maatskappy wat in die wapentransaksie betrokke was.

Die maatskappy se uitvoerende raadslid, André Laux het ontken dat hulle by die wapenvervaardigingsmaatskappy, SAAB, betrokke was. SAAB het in Junie erken dat hulle meer as R24 miljoen se omkoopgeld betaal het om te verseker dat hulle die transaksie kry om Gripen-vegvliegtuie aan Suid-Afrika te verskaf. 

“Ons ontken enige bespiegeling wat Kapsch TrafficCom met die wapentransaksie verbind,” het Laux Saterdag gesê. Volgens Laux het Kapsch Die Sweedse maatskappy Combitech, ‘n filiaal van SAAB, in 2000 oorgekoop. Dié maatskappy is kundiges in e-tolstelsels en verkeersoplossings en het ‘n “perfekte pasmaat” vir Kapsch in sy verkeersbesigheid verskaf.  “Dit is die enigste verbintenis tussen ons Sweedse filiaal en die projek in Suid-Afrika,” het Laux gesê.

Die maatskappy verwelkom die voorlopige ondersoek wat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, van stapel wil stuur. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.