Ebrahim doen emosionele beroep op Korkie se ontvoerders

Ebrahim Ebrahim

Ebrahim Ebrahim

Ebrahim Ebrahim, die adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, het ʼn emosionele beroep op ʼn Jemense televisiestasie gemaak dat die Al-Kaïda-militante wat vir Pierre Korkie ontvoer het, hom moet vrylaat.

“Pierre Korkie is baie siek en benodig dringend mediese behandeling,” het Ebrahim tydens die uitsending gesê. “Sy lewe is in gevaar. Islam versoek ons om genadigvol te wees en verbied ons om siekes leed aan te doen, selfs in oorlog. Ek smeek diegene wat hom aanhou om hom sonder versuim vry te laat.”

Hy het verder gesê Suid-Afrika is ʼn ontwikkelende land en dat die Korkies nie ʼn ryk familie is nie. “Ek versoek julle om saam te werk sodat Pierre Korkie huis toe kan kom vir die behandeling wat hy benodig om sy lewe te red en sodat hy met sy familie herenig kan word.”

Ebrahim het die ontvoerders bedank vir die genade wat hulle vir Pierre se vrou, Yolande, getoon het deur haar vry te laat. “Nou smeek ons julle vir die lewe van Pierre, ʼn onskuldige onderwyser van Suid-Afrika wat Jemen toe gekom het om by te dra om julle wonderlike land op te bou.”

Nelson Kgwete, die departement se woordvoerder, het Woensdag in ʼn verklaring gesê Ebrahim was in Jemen vir samesprekings met hul regering. “Reëlings is getref sodat ʼn geskrewe en getekende weergawe van Ebrahim versoek direk na die ontvoerders gestuur word,” het Kgwete gesê.

Sy ontvoerders eis ʼn losprys van $3 miljoen (byna R32.5 miljoen) vir sy vrylating. Die aanvanklike sperdatum vir die betaling van die losprys was verlede Vrydag, maar die militante het dit met drie weke uitgestel.

Die egpaar is in Mei verlede jaar in Taiz ontvoer nadat hulle vir Amerikaanse toeriste aangesien is. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat sonder dat daar ʼn losprys vir haar lewe betaal is.

Diegene wat ʼn bydrae wil lewer tot Pierre se losprys, kan ’n SMS met die woord “Korkie” na 42402 stuur. Met die stuur van die SMS sal R30 outomaties op die skenker se selfoonrekening gehef word.

Persone wat meer wil bydra, kan Mariska by House of Bread in Bloemfontein by 051 444 0190 of 082 307 6925 bel. Kredietkaartbetalings kan ook by House of Bread in Stapelbergstraat in Brandwag gedoen word.

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eben ·

As Pierre Korkie vrygelaat word, wat gaan met al die geld gebeur wat ingesamel is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.