Ebrahim na Jemen vir Korkie-gesprekke

Yolande Korkie Foto: Sapa stringer

Yolande Korkie Foto: Sapa stringer

‘n Video van Yolande, waar sy die ontvoerders versoek om haar man vry te laat, volg onderaan die berig. Ebrahim Ebrahim, adjunkminister van die departement van internasionale betrekkinge, sal Saterdag na Jemen vertrek om met die regering en ander betrokke partye te vergader oor Pierre Korkie se ontvoering.

Korkie se ontvoerders het sy familie tot Vrydag kans gegun om die losprys van $3 miljoen (ongeveer R32.5 miljoen) te betaal vir sy vrylating.

“Na verwagting sal die besoek deur minister Ebrahim aan Jemen daartoe lei dat mnr. Korkie so gou as moontlik ongedeerd vrygelaat sal word,” het Nelson Kgwete, woordvoerder vir die departement, gesê. “Die Suid-Afrikaanse regering spits hom toe op die welstand en sekuriteit van sy burgers, insluitend wanneer hulle in ander lande in nood verkeer of in gevaar gestel word.”

Korkie en sy vrou, Yolande, is in Mei in Taiz in Jemen deur Al-Kaïda-militante ontvoer. Sy is verlede week vrygelaat en het Maandag in Suid-Afrika geland.

Die humanitêre organisasie, Gift of the Givers, wat Yolande se vrylating bewerkstellig het, onderhandel steeds met die ontvoerders. Anas al-Hamati, die stigting se kantoorbestuurder in Jemen, het gesê die ontvoerders het gedreig om Korkie te vermoor as hulle nie die losprys ontvang nie.

Kgwete het egter gesê die regering sal nie betrokke raak by die onderhandelings oor die losprys nie. “Ons beleid is welbekend dat die regering nie losprysgeld betaal of daaroor onderhandel nie. Ons probeer sy vrylating deur diplomatieke kanale bewerkstellig.”

Imtiaz Sooliman, hoof van die Gift of the Givers, kon nie Vrydag bereik word vir kommentaar nie.

Lees alles oor Pierre Korkie.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eben ·

Stem saam met ” … Kgwete het egter gesê die regering sal nie betrokke raak by die onderhandelings oor die losprys nie…. ” Want die geld gaan vir zumaville se swembad

Allet ·

Ek verstaan nie hoe Ibrahim nou eers na jemen toe gaan vir onderhandelings nie. hierdie mense is dan al in Mei 2013 ontvoer!!!!!!!1

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.