Ecuador “verdedig” Snowden

Edward Snowden

Ecuador se minister van buitelandse sake, Patiño Aroca, het vir die voortvlugtige Edward Snoiwden in die bresse getree deur te sê sy lekkasie van Amerikaanse spioenasiegeheime is in die eerste plek “‘n geval van menseregte” en dat die Amerikaanse spioenasiepraktyke op ‘n “regsvergryp teen die mensdom” neerkom.

Ecuador oorweeg ‘n aansoek om asiel deur Snowden. Ecuador het vroeër politieke asiel aan Julian Assange, grootbaas van WiliLeaks toegestaan, wat al ‘n jaar lank in Ecuador se ambassade in Londen vasgekeer sit. Snowden het onlangs van Hong Kong, waarheen hy uitgewyk het, na Rusland vertrek, vanwaar hy via Kuba na Ecuador sou vertrek. Hoewel tientalle joernaliste plek op die vlug bespreek en vertrek het, het Snowden nie sy opwagting gemaak nie.

Volgens minister Aroca oorweeg Ecuador nog alle aspekte van Snowden se aansoek om asiel, en is met die Russiese owerheid in verbinding. Intussen is Amerikaners self verdeeld oor of Snowden ‘n held of uitvaagsel is.

Hoewel die meerderheid respondente in ‘n opname van Rasmussen aangedui het dat hulle meen die uitlek van spioenaisgeheime bedreig die VSA se veiligheid, het net 15% gemeen iemand moet vir sulke optredes gestraf word. Altesaam 68% het aangedui dat hulle nie saamstem dat fluitjieblasers soos Snowden vervolg moet word nie. In ‘n Rasmussenpeiling ‘n paar dae vroeër het nog net 12% van die respondente Snowden as held beskou, terwyl 21% hom as verraaier beskou het.

Verskeie onthullings, sommiges amptelik, oor hoe die VSA op joernaliste, maar ook die gewone publiek gespioeneer het, het verlede week veroorsaak dat net 44% van die Amerikaners gemeen het pres. Barack Obama doen goeie werk. Dit het oornag egter weer tot 48% herstel, hoewel Obama onlangs gereeld bo 50% gekuier het.

Snowden het ook in Suid-Afrika ontsteltenis veroorsaak toe hy onthul het dat ‘n Britse spioenasiediens in 2009 tydens ‘n G20-beraad in Brittanje, die Suid-Afrikaanse en Turkse afvaardigings vir die onderskepping van kommunikasie uitgesonder het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.