ʼn Versameling van edelgesteentes is uit MuseumAfrika in Newtown, Johannesburg, gesteel, het The Star Vrydag berig.
Die versameling, wat ʼn monstertjie van klatergoud en ʼn ou diamantkopboorpunt insluit, is in 1927 aan die stad geskenk en is glo honderde duisende rande werd.
“Die diefstal is tot dusver nie publiek gemaak nie weens die sensitiwiteit van die voorlopige ondersoek,” het Nthatisi Modingoane, woordvoerder vir die stadsraad, gesê. Die diefstal is Woensdag ontdek.
Sedert die diefstal, die tweede vanjaar, is die res van die uitstalling na veilige bewaring geskuif en dit is slegs glasdiamante wat nou vir die publiek uitgestal word. Bykomende sekuriteitsmaatreëls is ook ingestel.
Dit is nog nie duidelik hoe die diewe die edelgesteentes gesteel het en of alles tegelykertyd gesteel of oor ʼn periode gesteel is nie.
Die uitstalkas se glas is nie gebreek nie en die enigste ander toegang tot die versameling was deur ʼn geslote en versteekte deur. ʼn Sekuriteitswag waak daagliks tussen 09:00 en 17:00 langs die uitstalkas.
-SAPA