Een dood in Brits-vloede; meer reën op pad

Die Hartbeespoortdam se sluise moes Woensdag oopgemaak word. Foro: @janvandrielza / Twitter

Die Hartbeespoortdam se sluise moes Woensdag oopgemaak word. Foro: @janvandrielza / Twitter

Meisie van Tonder (56) is dood en vier mense gered nadat voertuie Dinsdagmiddag deur vloedwater in Brits in Noordwes meegesleur is. Al 10 sluise van die Hartbeespoortdam moes ook Woensdag oopgemaak word nadat dit begin oorstroom het.

Volgens Lesiba Kqwele, ʼn woordvoerder van die provinsiale regering, is Van Tonder se liggaam Woensdag deur polisieduikers gevind. Die ander vier mense is Dinsdagaand gered. “Van Tonder se voertuig en ʼn tweede voertuig, waarin vier mense gereis het, is deur die De Kroon-stroom naby die Brits-winkelsentrum meegesleur. Van Tonder was nie in die voertuig toe dit gevind is nie,” het Kqwele gesê.

Kqwele het gesê die provinsie se rampsbestuursentrum is op hoë gereedheid geplaas nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens nog swaar reënval vir die volgende paar dae voorspel het. “ʼn Gesamentlike bedryfsentrum is Woensdagoggend opgestel om verligtingspogings te koördineer.”

Volgens Kqwele is daar reeds met verligting in Majakaneng naby Mooinooi begin waar 30 huise oorstroom het. Twee ander huise het ineengestort weens vloede in die gebied.

Die Suid-Afrikaanse maatskaplike sekerheidsagentskap (Sassa) is genader om hulp aan die betrokke gesinne te bied. “Die plaaslike munisipaliteit het solank tydelike skuiling, komberse en tente aan die gesinne verskaf,” het Kqwele verduidelik.

Die provinsie se nooddienste is ook op hoë gereedheid geplaas nadat die departement van waterwese die sluise van die Hartbeespoortdam oopgemaak het.

Thandi Modise, die premier van Noordwes, het inwoners wat stroomaf van die dam woon, gevra om owerhede in kennis te stel van moontlike oorstromings.

Kgwele het gesê die departement van vervoer en die Madibeng-munisipaliteit se tegniese dienste probeer om oortollige water weg te lei.

Maroela Media het Dinsdag berig dat die weerdiens ʼn waarskuwing van swaar reënval en vloede uitgereik het. Lees meer hier.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.