Een persoon is oor die naweek tydens die Kaap na Rio-seiljagwedvaart dood, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Maandag gesê.
Volgens Craig Lambinon, ‘n woordvoerder van die NSRI, is verskeie seiljagte beskadig weens stormsterkte winde en erge weerstoestande. “Verskeie vaartuie is besig om sukkelend en gehawend hul weg terug te vind na Saldanhabaai en Kaapstad,” het Lambinon gesê.
Die Transnet Nasionale Hawe-owerheid, NSRI en die Suid-Afrikaanse Lugmag is sedert Sondag op hoë gereedheid geplaas.
“Maritieme owerhede versoek enige skepe op die see om op noodoproepe van seiljagte te reageer.”
Reddingspogings duur Maandag voort. Die seiljagwedvaart het Saterdag begin.