Een van ‘Waterkloof-vier’ vind glo liefde by 45-jarige familievriendin

Reinach Tiedt. Foto: SAPA

Gert van Schalkwyk. Foto: SAPA

‘n Lid van die sogenaamde ‘Waterkloof-vier’ het glo in die tronk liefde gevind by ʼn 45-jarige familievriendin.

Rapport berig dat Reinach Tiedt (25) glo by Hettie Kruger in “hul” huis in Roodepoort gaan woon wanneer hy op korrektiewe toesig vrygelaat word. Daar was die week hoogdrama terwyl Tiedt en Gert van Schalkwyk veronderstel was om Donderdag op korrektiewe toesig vrygelaat te word. Ondanks twee hofbevele en beamptes van die departement van korrektiewe dienste wat hulle skuldig gemaak het aan minagting van die hof, is Tiedt en Van Schalkwyk steeds in aanhouding. Tiedt se ma het aan Rapport gesê dat haar seun nie by Kruger sal bly nie maar by haar. Kruger wou nie kommentaar lewer oor haar en Tiedt se verhouding nie. Maar volgens die koerant het Kruger in haar getuigskrif aan die paroolraad vroeër vanjaar gesê hul “ernstige verhouding” het in Desember 2010 begin, hoewel sy hom reeds “baie jare” lank ken. Die verhouding het glo gegroei uit haar besoeke aan hom in die tronk.

Regter Eben Jordaan het twee beamptes van die departement Vrydag skuldig bevind aan minagting van die hof omdat hulle Tiedt en Van Schalkwyk nie wou vrylaat nie. Die beamptes sal in Januarie in die hof moet verskyn en verduidelik hoekom hulle nie vir 30 dae tronk toe gestuur moet word nie. Volgens Rapport is dié twee Tivani Makasane en Tozamile Tana, onderskeidelik die hoof van die Medium B-afdeling van die Zonder­water-gevangenis en die gebiedskommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD). Die departement het vroeër te kenne gegee dat hy Tiedt en Van Schalkwyk se vrylating sal teenstaan. Tiedt, Van Schalkwyk, Frikkie du Preez en Christoff Bekker is in 2008 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis weens die moord op ʼn hawelose man.

Intussen word daar berig dat die regsverteenwoordigers van nóg ’n lid van die “Waterkloof-vier”, Frikkie du Preez, in Januarie dieselfde prosesse sal begin om vir sy vrylating te beding. Du Preez en Bekker word in die Pretoria Sentraal gevangenis aangehou.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.