Een van die twee albino-luislange wat uit hul huis in Tugelasingel, Gallo Manor in Sandton, ontsnap het, is Donderdag opgespoor.
Dolce, die vroulike slang, is deur die eienaar, Angi Latimer in die swembadpomp ontdek, het The Citizen berig. “Ek het oral na haar gesoek. Sy het by die swembad rondbeweeg. Ons is nou herenig… Ek is baie gelukkig,” het Latimer gesê. Gabbana, die manlike slang, word steeds vermis. Die 3-meterlange slange het Woensdag verdwyn nadat hulle glo deur diefwering geseil, en ʼn deurhandvatsel deur hul gewig afgedruk het. Die slange is nie giftig nie, maar die slange kan hul prooi deur drukking versmoor. Volgens Latimer sal die slange nie kinders of troeteldiere verwurg nie.