Een van Korkie-egpaar vrygelaat

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding. Sy vrou is egter Vrydag vrygelaat.

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding. Sy vrou is egter Vrydag vrygelaat.

Yolande Korkie, wat verlede jaar in Mei saam met haar man Pierre voor ʼn hotel in die hoofstad Taiz in Jemen ontvoer is, is Vrydagoggend omstreeks 06:00 deur haar ontvoerders Vrygelaat. Pierre word egter nog aangehou.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter en voorsitter van die humanitêre welsynsorganisasie, Gift of the Givers, wat by die onderhandelinge betrokke is, het Vrydag aan Maroela Media gesê dat die egpaar se ontvoerders deel is van die terroristegroep Al-Kaïda.

“Die groep het ons verteenwoordiger, Anas al-Hamati, in Jemen Maandag gekontak om te sê hulle wil oor die ontvoering onderhandel en ons het ingestem,” het Sooliman gesê. “Hy het hulle Dinsdag in ʼn provinsie ontmoet en hulle het aangedring op $2 miljoen vir Yolande.” Na dae se onderhandeling is Yolande uiteindelik vrygelaat sonder dat daar ʼn losprys vir haar betaal is, omdat sy glo siek is. Yolande is tans veilig in ʼn hotel in Jemen en sal binnekort weer na Taiz geneem word.

Volgens Sooliman is Yolande baie emosioneel en baie bekommerd oor haar man en het sy navraag gedoen oor haar kinders. Die groep eis ʼn losprys van $3 miljoen vir Pierre, in sy 50s, se vrylating. Gift of the Givers is tans besig om oor Pierre se vrylating te onderhandel.

Hennie Nel, Pierre se oom, het Vrydag aan Maroela Media gesê hulle is uiteraard baie verlig en bly dat Yolande veilig is. “Ons voel goed en dit gee ons moed. Ons hoop en bid nou net dat Pierre ook vinnig en ongedeerd vrygelaat gaan word,” het hy gesê.

Yolande was ʼn voormalige onderwyseres in Bloemfontein. Pierre was ’n onderwyser by Grey College in Bloemfontein voordat hy in die omgewing begin boer het. Vandaar is die gesin na Jemen.

Pierre en Yolande en hul twee tienerkinders het vir vier jaar lank in Jemen gewoon. Pierre het glo as ʼn Engelse onderwyser by Rafah for Development, ʼn nie-regeringsorganisasie in Jemen, gewerk. Dié organisasie spits hom toe op gemeenskapsontwikkeling onder veral jongmense. Die egpaar en kinders was op pad na Suid-Afrika om Pierre se pa, wat ʼn week tevore oorlede is, se begrafnis by te woon, toe hulle ontvoer is. Die egpaar is glo ontvoer, aangesien hulle aanvanklik as Amerikaanse toeriste aangesien is. Die egpaar se kinders is sedert die ontvoering teruggebring na Suid-Afrika, waar hulle by familie woon.

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.