ʼn Eenjarige seuntjie is dood en sy ma en broer is beseer na ʼn huisbrand Woensdagaand in Hillcrest in KwaZulu-Natal.
Andre Visser, ‘n woordvoerder van ER24, sê toe paramedici op die toneel aangekom het, het hulle die ma en haar twee seuns, onderskeidelik een en vyf jaar oud, op die grasperk voor die huis gevind. Visser sê die eenjarige seuntjie het nie ʼn pols gehad of asem gehaal nie. Paramedici het hom probeer bybring maar hy is later op die toneel dood verklaar. Die vyfjarige seun het skrape en kneusplekke opgedoen. Die ma het brandwonde aan haar rug en bene opgedoen en is ook vir rookinaseming behandel. Hulle is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling. Brand- en reddingsdienste kon daarin slaag om die brand te blus. Die oorsaak van die brand word ondersoek.