The Star berig dat Mofokeng ʼn hotel in Vanderbijlpark verlaat het toe die voorval plaasgevind het. Volgens die berig het Mofokeng Dinsdagaand agter tralies deurgebring. Brig. Neville Malila, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat Mofokeng ʼn bloedtoets by ʼn hospitaal ondergaan het. “Hy is Woensdagoggend op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy is van die polisiekantoor vrygelaat en het nie in die hof verskyn nie.” Die saak is tot 5 September uitgestel.
In Februarie vanjaar het Mofokeng glo in ʼn kroeg geval en moes hy deur omstanders opgehelp word. Dan Manoeli, Mofokeng se woordvoerder, het destyds gesê dat hulle vermoed dat Mofokeng se drankie gedokter was.