Eerste kind “funksioneel genees” van Vigs

ʼn Kind, wat nou twee en ʼn halfjaar oud is, is in Amerika glo funksioneel van die MI-virus (MIV) genees.

Die aankondiging is by die 20ste jaarlikse konferensie oor retrovirrusse en opportunistiese siektes in die Amerikaanse deelstaat Georgia gemaak. Die dogtertjie se naam is nie bekendgemaak nie, om haar en haar ma se identiteit te beskerm. Sy is 30 uur na geboorte met anti-retrovirale middels behandel, en die vermoede is dat dít haar genesing bewerkstellig het. Die virus het 29 dae na die toediening van die middels nie meer enige tekens getoon dat dit in haar liggaam reproduseer nie.

“Funksionele genesing” beteken dat die virus steeds in die kind se liggaam teenwoordig is, maar dat dit so swak is dat die natuurlike immuniteitstelsel dit onder beheer hou. Die kind het volgens die aansprake nou ‘n normale lewensverwagting. Die navorsers soek nou na “biomerkers” wat hulle sal help om die toetse te doen om die behandeling veilig te reproduseer.

Die enigste ander mens wat tot dusver amptelik van die virus genees is, is die Amerikaner Timmothy Brown. Hy het ‘n stamsel-oorplanting teen bloedkanker ondergaan en is selle toegedien met die mutasie delta 32. Dit veroorsaak ‘n uitrafeling (deletion) van die CCR5-geen, en dit verhinder dat die virus die selle kan binnedring. Die mutasie kom by minder as 1% van Noord-Europeërs voor, veral Swede. Nie alle dokters is oortuig dat hy volkome genees is nie na die virus weer teen die middel van verlede jaar in sy liggaam gevind is. Dit was onduidelik of dit steeds spore was van toe hy volledige vigs onder lede gehad het, of ‘n nuwe besmetting.

Wat die jongste bevindinge oor die kind betref, meen die navorsers dat die eerste prys steeds bly om te voorkom dat die virus van die moeder na die kind oorgedra word. Die bestaaande middels is 98% doeltreffend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.