Eerste Liga: Swak skopwerk kos verloorders

Die Curriebeker se Eerste Liga het Vrydagaand lekker opwinding opgelewer met die voorlopers, die Steval Pumas, wat amper teen ’n vasberade OP Kings-span vasgeval het.

Die skoppers in albei verloorspanne, die OP Kings en Grens Bulldogs, het hul spanne stellig van oorwinnings beroof met swak skopwerk.

In die Mbombela-stadion in Nelspruit het die Pumas 33-32 gewen nadat hulle verbete moes terugveg. Hulle het nou 37 punte op die puntelys – tien meer as die SWD Arende in die tweede plek.

As daar ‘n troosprys is, kan die Kings darem sê dat hulle die meeste drieë gedruk het: vyf deur Michael Killian, Scott van Breda, Steven Sykes, Siyabonga Mangweni en Nicholas Vergallo. George Whitehead kon slegs twee verdoel terwyl Van Breda met ’n strafskop geslaag het.

Drie van die Pumas se vier drieë is deur RW Kember gedruk en een deur deur Jacques Momberg. Carl Bezuidenhout het twee verdoel en drie strafskoppe deur die pale gejaag.

Die Grens Bulldogs het in ’n taai stryd op George met 31-36 die onderspit gedelf teen hul bure, die SWD Arende.

Dale Sabbagh en Karlo Aspeling het 15 punte se skoppunte verbrou wat hul span kon laat seëvier het. Sabbagh het in verlede week se stryd teen die OP Kings sy span se enigste punte met twee strafdoele aangeteken. Aspeling het ten minste ’n skepskop oorgeklits en Sabbagh het een doelskop en twee strafdoele behaal.

Tussen die twee spanne het hulle nege drieë gedruk in ’n polsende wedstryd. Dumisane Meslane, Mzwanele Zito, Roy Godfrey, Clint Wagman en die spoedvraat Alshaun Bock het almal die Grens-doellyn oorgesteek. Rynard van Wyk het twee drieë vir die Bulldogs gedruk, terwyl Chumani Booi en Stephan Gerber hul span se viertal voltooi het.

Die Arende het met hierdie oorwinning opgeskuif tot tweede op die puntelys met 27 punte terwyl die Bulldogs sesde is met 11 punte.

Vandag se Eerste Liga-kragmetings is:
Griffons vs Valke (Noordwes-stadion, Welkom; afskop 15:00)
Luiperds vs Boland Kavaliers (Profert Olënpark, Potchefstroom; afskop15:00)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eben ·

Op Nelspruit het die Pumas met 33-32 gewen en NIE soos die berig lees 33-23 glo my ek was daar op my Voortrekker woord :-))

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.