EFF betoog teen e-tol

e-tollVerkeer sal Vrydag in Newtown, Johannesburg, herlei word tydens ʼn betoging deur die Economic Freedom Fighters (EFF) teen e-tol.

“Die betoging begin om 10:00 by Mary Fitzgerald-plein,” het hoofsuperintendent Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê. “Die betogers sal met Breestraat op stap en regs draai in Simmondsstraat waar hulle ʼn memorandum by die kantoor van die premier sal indien.” Volgens Minnaar sal die betogers dan van Foxstraat en Miriam Makebaweg gebruik maak om terug te stap tot by Mary Fitzgerald-plein.

“Die betoging behoort teen 13:00 klaar te wees en ons verwag ongeveer 2 000 betogers.”

Die EFF in Gauteng het Woensdag gesê e-tol sal Gauteng-inwoners beroof van hul swaarverdiende geld. Die EFF doen ʼn beroep op alle inwoners, die burgerlike samelewing en enigiemand wat e-tol teenstaan om die stelsel te verwerp, aangesien dit ʼn “sistematiese en weldeurdagte diefstal deur die ANC, gelei deur pres. Zuma, verteenwoordig”.

ʼn Hofgeding teen e-tol deur die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) is op 9 Oktober deur die hoogste hof van appèl van die hand gewys. Outa het op 18 Oktober aangekondig dat hy nie meer fondse het om met die hofstryd voort te gaan nie. Outa hou vol dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en die regering nie ʼn behoorlike openbaredeelnameproses gehou het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.