EFF: ‘Staat moet Reserwebank besit’

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Reserwebank moet deur die staat besit word ten einde die belange van Suid-Afrikaners te bevorder, het die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) gesê.

“Die algemene praktyk is dat regerings hul eie reserwebanke besit. Suid-Afrika is een van die twee indien nie drie lande wat nie hul eie reserwebank besit nie,” het Julius Malema, leier van die EFF, gesê. “Dit [die Reserwebank] reguleer die rentekoerse en wanner dit eers in staatsbesit is sal dit tot voordeel van die mense gereguleer word, sodat ons mense kan bekostig om huise en motors te koop sonder om hoë rentekoerse te betaal.” Malema het die uitlatings gemaak in ʼn onderhoud met Sapa tydens die EFF se forum wat in Johannesburg gehou is. Lede van die party het die beginsels waarop die party se beleide gebaseer gaan word, bespreek.

Een van die prioriteite wat tydens die forum bespreek was, is grondeienaarskap. Malema sê die party was duidelik oor wat die finale beleid van die organisasie sal wees. “Die grondkwessie is ʼn nasionale krisis. Ons mense wag al die afgelope 20 jaar vir die oordrag van grond. Die ANC het beloof dat hy 30% van die grond teen 2014 sou oordra maar het slegs sowat 8% persent reeds oorgedra. Die oorgrote meerderheid van ons mense het nie grond as ‘n middel van produksie ten einde die land te ontwikkel nie.” Malema sê die EFF se siening oor grondeienaarskap sal deel uitmaak van die prioriteite in die party se manifes. “Ons posisie is dat ons onteien sonder vergoeding. Ons wil hê dit moet ʼn wet wees en voor dit wet word moet ons mense begin om grond te beset.” Malema sê die staat sal die dispuut met die eienaars van die private grond wat beset gaan word moet uitsorteer. “Maar ons mense hoef nie uitgesit te word nie. Die regering moet ophou om mense wat grond beset te verdryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.