EFF wil 2014-verkiesing met rooi barette wen

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het Donderdag gesê die EFF beplan om die verkiesing in 2014 te wen, maar die speelvlak is nie gelyk nie.

Kwessies rakende die OVK

“Talle van die verkiesingswette, reëls en regulasies is ten gunste van die bestaande politieke partye en die meerderheidsparty,” het Malema aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

Die EFF gaan glo die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en die verkiesingshof nader om sekere kwessies aan te spreek. Eerstens is die R45 000 verpligte registrasiefooi per politieke party per provinsie en die R200 000 wat vir die politieke party nasionaal betaal moet word. “Dit sluit partye, wat nie geld het nie, maar tog baie volgelinge het, uit.”

Die tweede kwessie is die OVK-finansieringsmodel waarvolgens slegs politieke partye met ʼn setel in die parlement, geld ontvang. “Dit is onregverdig. Die OVK finansier gevolglik politieke partye om dieselfde aantal setels te behou wat hulle tans oor beskik,” het Malema gesê.

Die derde kwessie is die Icasa-regulasie dat mediadekking, hoofsaaklik radio en televisie, bepaal sal word kragtens die hoeveelheid setels wat ʼn party in die parlement het.

Malema sê dit benadeel nuwe politieke partye.

“Ons glo ʼn vreedsame oplossing oor dié kwessies sal die speelvlak gelyk maak en waarborg dat alle Suid-Afrikaners ʼn gelyke geleentheid ontvang om vir die regering van hul keuse te stem.”

Lede en lidmaatskapfooie

Malema het ook gesê die EFF het nou meer as 400 000 lede. “Dit is R10 per lidmaatskap en ons het die finansiële state na die rekenmeester geneem om te bepaal hoeveel R10e in die rekening inbetaal is,” het hy gesê. “Die rekenmeester is nog nie klaar nie, maar ons is dankbaar dat hy reeds verby die 400 000 kerf is.” Die EFF het glo ʼn doelwit gestel om, voordat die verkiesing aanbreek, 500 000 lede te hê.

Malema sê talle ondersteuners van die party kan nie die R10-lidmaatskapfooi bekostig nie. “Dit is nie ʼn grap nie, dit is die werklikheid.” Malema sê as die lede R10 het, kan hulle oorweeg om dit op die lidmaatskapgelde te spandeer, maar as hulle brood sien is dit belangriker. “Hulle moet eet.”

Malema sê die organisasie word befonds deur lidmaatskapfooie, donasies en die verkope uit EFF-handelsware. Die grootste bedrag wat hulle tot dusver van ʼn lid ontvang het, was R50 000.

Rooi barette

Volgens die Sowetan-koerant het die ANC glo 50 000 rooi barette aangeskaf voor sy manifes-vergadering komende naweek. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het aan die koerant gesê die doel is om die EFF “plat te druk”. “Niemand het ʼn monopolie oor ʼn rooi baret nie.”

Malema het Donderdag gesê daar is niemand in die ANC meer oor wat kreatiewe idees het nie, en dit is hoekom hulle die rooi barette steel. “Daar is niemand meer oor wat opgewondenheid kan aanwakker voor die verkiesing nie, en ook nie ʼn 2014-verkiesingsnalatenskap nie. Die nalatenskap van die 2014-verkiesing gaan die rooi baret wees,” het Malema gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

GawieM ·

Toe hy nog in die ANC was, was dit aanvaarbaar. Wat het intussen verander dat dit nou nie meer aanvaarbaar is nie?

Gawie Botha ·

Julius Malema het n debateerbare punt ,wat reg is is reg,ek stem saam met hom,,,,sy “raadgewers” op die oomblik gee goeie raad!

GawieM ·

Ek stem saam met jou , my punt is dat dit vir hom aanvaarbaar was toe hy in die ANC verbonde was, maar nou nie meer nie.

Paul Smith ·

Miskien moet ons blankes dit oorweeg om ook by die EFF aan te sluit as ons wil oorleef, ha-ha. Hy is nog net besig om te land dan sal hy alweer moet opstyg, hier gaan hy nie grondvat (grond vat) nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.