Effense petrolprysdaling in Desember verwag

Met die rand wat tot dusver in November gemiddeld ietwat swakker is as wat dit in Oktober was, striem dit die vooruitsig vir ʼn groot daling in petrol- en dieselpryse op 5 Desember.

“Internasionale petroleumprodukpryse was egter tot dusver gedurende November laer as wat dit in Oktober was, wat die effek van die swakker rand uitkanselleer. Hierdie pryse het egter ook sedert 6 November weer stadigaan opwaarts begin beweeg, wat die positiewe effek verklein,” het Paul Joubert, senior navorser by Solidariteit gesê.

Volgens Joubert gaan dit alles daarop neerkom dat ʼn daling van ongeveer 20c per liter in die basiese petrolprys en ʼn daling van ongeveer 18c in die basiese dieselprys verwag kan word. “Hierdie dalings kan egter moontlik nog groter wees, aangesien daar tans ʼn leiheffing (slate levy) van 15,36c per liter op beide petrol en diesel gehef word. Die kans is goed dat hierdie leiheffing in Desember verwyder sal word, wat die algehele dalings in die pryse van petrol en diesel onderskeidelik tot ongeveer 35c en 33c sal toeneem.”

Joubert sê die vooruitsig kan nog verander soos die wisselkoers en internasionale petroleumprodukpryse deur die loop van die res van November verander, maar behoort nie meer ver daarvan af te wyk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.