ʼn Man en sy vrou het ternouernood aan die dood ontkom nadat hulle motor van ʼn brug geval en in die Amanzimtoti-rivier naby Durban in KwaZulu-Natal beland het.
Chris Botha, ʼn woordvoerder van Netcare911, sê die man en sy vrou het glo op N2 na Durban gery toe die man beheer oor die motor verloor het nadat hy deur ʼn poel water op die hoofweg gery het. “Die voertuig het die pad verlaat, sowat 20m ver van ʼn brug af geval en in die rivier beland.” Botha sê omstanders het die man en sy vrou uit die motor en rivier gehelp waarna hulle op die toneel gestabiliseer is en na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.