Egpaar soek luukse voertuie terug

Die NVG lê beslag op die Mpisanes se motors by hul huis in La Lucia. Die foto is deur @Leko3 op Twitter gelaai.

Die voormalige Durbanse metropolisielied en sy vrou wie se luukse motors ter waarde van R22 miljoen verlede week deur die Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gekonfiskeer is, het die hof genader om hul voertuie terug te kry.

Die voormalige metrobeampte, Sibusiso Mpisane, en sy vrou, Shauwn, het ‘n dringende hofaansoek by die Pietermaritzburg-hooggeregshof ingedien.

Die KwaZulu-Natalse hooggeregshof het verlede Dinsdag ʼn bevel aan die batebeslagleggingseenheid toegestaan om op R140 miljoen van die Mpisanes se bates beslag te lê. Shauwn word tans in die Durbanse streekhof verhoor vir beweerde belastingontduiking. Sy besit ʼn konstruksiemaatskappy. Die egpaar is binne gemeenskap van goedere getroud.

Die NVG het op’n Rolls-Royce Phantom, ʼn Rolls-Royce Ghost, ʼn Maserati, ʼn Ferrari Scaglietti, ʼn Porsche Cayenne Turbo en ʼn Panamera Turbo, twee gepantserde BMW 5’s en twee Hummers beslag gelê. Daar is ook op konstruksievoertuie van R4,5 miljoen beslag gelê. Die NVG sê daar is verder op vier vaste bates, insluitend die Mpisanes se huis in La Lucia ter waarde van R25 miljoen, beslag gelê.

Die staat het tot Donderdag om op die aansoek te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.