Eienaar waag lewe om diere uit brand te red

Henry Kemp (links). Foto: www.animaniacs.co.za

Die eienaar van ʼn troeteldierwinkel in Emalahleni (Witbank) is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hy in sy brandende winkel ingehardloop het om sy eksotiese diere te red.

Henry Kemp (35) besit Animaniacs in die Izindlu Village-kompleks, berig Beeld. Hy het Saterdag omstreeks 23:00 ʼn oproep van sy veiligheidsmaatskappy ontvang wat laat weet het daar is fout met die winkel se alarmstelsel. Hy en sy suster, Cozette Beck wat mede-eienaar van die winkel is, het gaan ondersoek instel en gesien agt winkels by die kompleks is aan die brand.

“My broer het in ons winkel ingehardloop om die diere te probeer red. Dit is hoe hy is. Hy lewe vir sy diere,” het Beck aan die koerant gesê. “Hy het geslaag om sommige diere te red, maar kon nie by almal uitkom nie. Hy is in die winkel deur die vlamme oorweldig. Ek het hom om hulp hoor skreeu en vir hom geskreeu dat hy in een van die koi-damme moet klim, wat hy gedoen het,” het sy gesê.

Brandbestryders het hom daarna uit die brandende gebou gered. Hy is na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem met ernstige brandwonde aan sy arms en bene.

Van die diere wat doodgebrand het, is twee boas, 55 luislange, 300 spinnekoppe, 20 koi-visse, ’n paar Amasone-papegaaie, ander voëls en tarantulas.

Volgens Beck beloop skade aan die kompleks tussen R8 miljoen en R9 miljoen.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trudie ·

Ai, baie hartseer. Jammer Henry dat jy gebrand het, maar jy is ‘n wonderlike mens om jou lewe so te gewaag het. Jammer vir die diere wat dood is. Maak sommer my hart baie seer.

Christa eloff ·

Dit is verskriklik wat gebeur het, my hart is in stukke oor al die diere wat dood is. Henry is voorwaar ‘n held om sy eie lewe in gevaar te stel vir sy diere. My hart gaan uit vir hom en ek bid vir vinnige genesing. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.