“Ek het my familie afgeskeep, en ek is spyt daaroor” – Mandela

Nelson Mandela Foto: abc.net

Nelson Mandela Foto: abc.net

In sy outobiografie Long Walk to Freedom skryf oudpresident Nelson Mandela een van die dinge waaroor hy die meeste berou het, is dat hy sy familie afgeskeep het.

Madiba is op sy oudag gesien as ʼn familieman en ʼn oupa wat graag tyd saam met sy kleinkinders en agterkleinkinders deurgebring het. Sy besluit om ʼn vryheidsvegter te word, het beteken dat daar min tyd oor was vir sy familie, skryf hy in sy outobiografie. Volgens Mandela was dit die keuse in sy lewe wat hy die meeste berou het.

Mandela is in 1944 op 26-jarige ouderdom met Evelyn Mase, ʼn leerling-verpleegster, getroud. Mase was die niggie van Walter Sisulu. Mandela het in dieselfde jaar by die ANC aangesluit en was betrokke by die totstandkoming van die party se jeugliga. Die egpaar het vier kinders gehad. Madiba Thembekile Mandela is in 1945 gebore, maar is op 13 Julie 1969 in ʼn motorongeluk oorlede terwyl sy pa in die tronk was. Hy was 24 jaar oud. Makaziwe Mandela is in 1948 gebore en is nege maande na haar geboorte oorlede. Magkatho Lewanika Mandela is in 1950 gebore en is in 2005 aan ʼn vigs-verwante siekte oorlede. Pumla Makaziwe Mandela is in 1954 gebore. Sy staan ook bekend as Maki.

Mandela en Mase is in 1958 geskei. Mase is in 2004 oorlede.

Mandela is in 1955 in hegtenis geneem op aanklag van hoogverraad. Hy is egter in Maart 1961 vrygespreek. In 1957, gedurende die verhoor, het Mandela vir Winnie Madikezela, ʼn maatskaplike werker, ontmoet. Hulle is in 1958, kort na sy egskeiding van Mase, getroud. Mandela en Madikizela het twee kinders. Zenani Dlamini is in 1959 gebore en Zindzi Mandela in is in 1960 gebore.

Nadat hy 26 jaar tronkstraf uitgedien het, was Winnie aan Mandela se sy toe hy op 11 Februarie 1990 as ʼn vry man by die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein-gevangenis) in die Paarl uitgestap het. Mandela en Madikizela is in 1996 amptelik geskei.

Mandela is op 18 Julie 1998, op sy 80ste verjaarsdag, met Graça Machel getroud. Machel is die enigste vrou ter wêreld wat al met twee staatshoofde getroud was. Sy was ook getroud met die voormalige Mosambiekse president Samora Machel, wat in 1986 in ʼn vliegtuigongeluk oorlede is. Volgens inligting het Graça en Mandela kort na sy vrylating in 1990 ontmoet, maar het hulle eers in 1997 hul verhouding openbaar gemaak. Graça, ’n prokureur en aktivis vir kinderregte, was 52 jaar oud toe sy met Mandela getroud is.

Madiba het 17 kleinkinders en 12 agterkleinkinders. Twee van sy agterkleinkinders is oorlede. Zenawe Zibuyile Maienne Mandela is in Junie 2011, twee dae na sy geboorte, oorlede. Hy is drie maande te vroeg gebore. Hy was die seun van Zoleka Mandela, Madiba se kleindogter, en die 7de Laan-akteur Sekoati Tsubane (Kabelo). Zoleka se dogter Zenani (13) is in Junie 2010 in ’n motorongeluk op pad huis toe ná die Wêreldbeker 2010-afskopkonsert dood.

Beeldmateriaal van Zenani se gedenkdiens:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.