‘Ek het niks vir hulle te sê nie’

Johnny en Riekie Lotter.

Christelle Lotter, suster van Nicolette en Hardus wat vroeër die week skuldig bevind is aan die moord op hulle ouers, het niks vir haar broer en suster te sê nie.

Sunday Times berig dat Christelle (26), wat glo sowat R2 miljoen geërf het na die moord op haar ouers, nou in Kaapstad woon na sy aan die Universiteit Stellenbosch studeer het. Hardus, Nicolette, en haar voormalige kêrel, Mathew Naidoo, is die week skuldig bevind aan die moord op Johnny en Riekie Lotter in Julie 2008 in hul huis in Westville, Durban. Christelle het nie die moordverhoor bygewoon of vir haar broer en suster in die tronk gaan kuier nie. Christelle se regsverteenwoordiger, Piet Matthee, sê dit is ʼn baie moeilike tyd en dat sy genoeg pyn deurgemaak het. “Mense moet hulself in haar skoene plaas. Jou enigste suster en broer vermoor albei jou ouers op die mees gevoellose wyse. Ek kan nie sien dat Christelle in die hof moes sit en na al die gruwelike besonderhede luister nie. Dit is baie moeilik vir haar. Sy wil aangaan met haar lewe.” Die staat het tydens die verhoor beweer dat Nicolette, Hardus en Naidoo die moord beplan het ten einde ʼn deel van die Lotter-egpaar se boedel te kry. In ‘n hofaansoek wat drie jaar gelede ingedien is, het Hardus en Nicolette gepoog om ‘n deel van hul ouers se boedel te kry om vir hulle regsverdediging te betaal. Christelle het destyds gesê haar broer en suster is gedryf deur “geld, seks en woede. Hulle het beplan om weg te kom met die moorde, geld te kry van ons ouers se boedel en om te leef soos hulle wil,” het sy in haar beëdigde verklaring gesê. Matthee wou nie enige besonderhede rakende die boedel bekendmaak nie.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.