‘Ek is nie ‘n moordenaar’

Albert van Vuuren, ʼn drankwinkelbestuurder van Bronkhorstspruit, is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan die moord op sy vrou.

Die hof het Van Vuuren se verweer dat hy niks kan onthou van die aand van 11 Julie 2010 waarop sy vrou Monica vermoor is nie, verwerp. ʼn Patoloog het gedurende die verhoor getuig dat Monica nagenoeg 25 keer met ʼn skerp voorwerp gesteek is en ʼn gebreekte nek en kakebeen gehad het. Sy is dood weens ʼn rugbesering en steekwonde aan beide kante van haar bors, wat haar hart en longe deurboor het. Van Vuuren het getuig dat hy die aand van sy vrou se moord ʼn kalmeermiddel saam met alkohol gedrink het en dat hy nie kan onthou wat gebeur het nie. Van Vuuren het verder aangevoer dat sy vriend, Gordon McCallum, se getuienis dat hy erken het dat hy sy vrou vermoor het, nie waar kan wees nie aangesien “hy nie ʼn moordenaar is nie.” Hy het ook getuig dat hy “bly” was toe sy vrou hom vir ʼn egskeiding gevra het aangesien hulle ʼn liefdelose huwelik gehad het.

Die eerste polisiebeampte op die toneel het op Van Vuuren afgekom waar hy op die kombuisvloer gesit het met ʼn wond aan sy hand en sy vrou se liggaam wat langs hom op die vloer gelê het. Sy vrou se bloed is op die denimbroek wat hy die aand van die moord aangehad het gevind. Die regter het die polisie gekritiseer vir sy swak ondersoek na die moord aangesien die moordtoneel skoongemaak was toe die polisie die volgende dag daarna teruggekeer het. Van Vuuren se borgtog is verleng en vonnisopleggings sal op 30 Augustus begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.