‘Ek moet doen wat hy sê anders sal ek seerkry’

Steyn tydens sy verskyning op 13 Desember in die Krugersdorp streekshof. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die beweerde negende slagoffer van die sogenaamde “Sondagverkragter” het Dinsdag in die hooggeregshof, wat in die Palm Ridge-landdroshof in Thokoza aan die Oos-Rand sit, getuig.

“Hy het my gegroet waarna hy ʼn vuurwapen op my gerig het en gesê het ek moet doen wat hy sê anders sal ek seerkry,” het die 18-jarige vrou getuig. Johannes Jacobus Steyn staan tereg op twee aanklagte van moord, 11 aanklagte van verkragting, 10 aanklagte van seksuele aanranding, een van poging tot seksuele aanranding, 10 aanklagte van ontvoering, een van poging tot onvoering en twee aanklagte van aanranding. Die vrou wat 15 was ten tyde van die voorval het getuig dat sy en haar suster op 7 Maart 2010 na ʼn kafee in Rustenburg geloop het toe sy ontvoer en geblinddoek is. Die man het haar glo hierna na ʼn beboste gebied geneem waar hy haar klere begin uittrek en aan haar gevat het. “Hy het aan my gevat en ek het hom weggedruk en gesê hy moet my uitlos.” Die man het glo hierna haar van haar onderklere gevat en onder sy motor se sitplek weggesteek voor hy haar verder seksueel aangerand het.

Dorothea Joubert, ʼn patoloog, het vroeër getuig dat geen mediese hulp die lewe van Lazanne Farmer sou kon red nie. Joubert sê Farmer is dood weens kopbeserings. Sy het ʼn skedelfraktuur opgedoen en daar was bloed in haar neus, mond, ore en lugpyp. Sy sê die beserings is kenmerkend van iemand wat uit ʼn bewegende motor gespring of geval het. Farmer en ’n 16-jarige vriendin is Sondag 5 September 2010 in Elandspoort in die weste van Pretoria ontvoer. Farmer het uit die ontvoerder se bakkie na haar dood gespring. Haar vriendin is glo hierna in ’n beboste gebied verkrag. Steyn word aangekla van die moord op Farmer. Die saak is tot Woensdag uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.