“Ek moet saamwerk anders sal hy my verkrag”

Steyn tydens sy verskyning op 13 Desember in die Krugersdorp streekshof. Foto: Werner Beukes/SAPA

Vier van Johannes Jacobus Steyn, of die sogenaamde “Sondagverkragter”, se vermeende slagoffers het Dinsdag in die hooggeregshof, wat in die Palm Ridge-landdroshof in Thokoza aan die Oos-Rand sit, getuig

Drie van sy ander vermeende slagoffers het reeds getuig. Die hof het gelas dat hulle nie geïdentifiseer mag word nie en almal behalwe een het in kamera getuig. ʼn 20-jarige vrou was die eerste getuie Dinsdagoggend en sy het besluit om nie in kamera te getuig nie. Die vrou, wat 18 was ten tyde van die voorval, het getuig hoe sy amper ontvoer is terwyl sy in Augustus 2010 na ʼn kafee gestap het in Potchefstroom. Sy en haar 11-jarige broer het na die kafee gestap toe ʼn bakkie langs hulle gestop het. Sy kon daarin slaag om haar aanvaller af te weer en het vir haar broer gesê om hulle pa te gaan roep. “Ek het hom geskop, die bakkie se deur toegeslaan en huis toe gehardloop.” Die volgende getuie was ʼn 18-jarige vrou wat in Februarie 2010 in Vanderbijlpark ontvoer en verkrag is. “Hy het gesê ek moet stilbly of anders sal ek seerkry.” Die vrou het getuig dat sy na ʼn kafee geloop het toe ʼn wit bakkie voor haar gestop het. Haar aanvaller het ʼn vuurwapen op haar gerig en haar beveel om in die bakkie te klim. Hy het haar na ʼn afgeleë gebied geneem en haar hande aan die passasiersdeur se handvatsel vasgemaak. “Hy het op my skoot geklim en my broek tot op my knieë afgetrek…Hy het my een been in die lig gehou en bo op my geklim.

ʼn 15-jarige meisie het getuig dat sy steeds nagmerries kry oor haar aanvaller. Die meisie is glo in November 2009 in Potchefstroom ontvoer. Haar aanvaller het haar geblinddoek en na ʼn afgeleë gebied geneem waar hy haar seksueel aangerand het. ʼn 18-jarige vrou het getuig dat sy in Junie 2009 ontvoer is toe sy van die skool na haar huis geloop het in Rustenburg. “Hy het gesê daar is ʼn paar goed wat ek vir hom moet doen. Ek moet saamwerk anders sal hy my verkrag.” Sy het getuig dat hy aan haar gevat het voor hy haar beveel het om regop te staan. “Hy het teen my gevryf…Toe hy klaar was met my het ek gevoel hoe iets teen my bene af loop….Sy semen het teen my bene af geloop.” Hy het ʼn handdoek gebruik om dit af te vee. “Ek is bang om alleen êrens heen te gaan,” het sy getuig. Die verhoor duur Donderdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.