“Ek sal nooit sy gesig vergeet nie”

Steyn tydens sy verskyning op 13 Desember in die Krugersdorp streekshof. Foto: Werner Beukes/SAPA

‘n Vriendin van die vermoorde Louise de Waal (17) het Maandag in trane getuig hoe die moord haar lewe verander het.

“My beste vriendin is van my af weggeneem,” het die 18-jarige getuig tydens die verhoor van die sogenaamde “Sondagverkragter”, Johannes Jacobus Steyn. “Ek sal nooit die man wat dit gedoen het vergeet nie. Ek sal nooit sy gesig vergeet nie.” Regter Sita Kolbe het gelas dat die meisie, wat saam met De Waal was toe sy ontvoer is, nie geïdentifiseer word nie aangesien sy minderjarig was ten tyde van die voorval. Die meisie het getuig dat sy en De Waal op 12 Oktober skool toe gestap het toe ʼn silwer bakkie verskeie kere verby hulle gery en dat dit haar ongemaklik gemaak het. Sy sê die bakkie het ʼn u-draai gemaak en langs hulle gestop. “Hy het uit die bakkie gespring en ʼn vuurwapen op ons gerig. Hy het vir Louise gesê om in die bakkie te klim.” Sy sê die man het Louise aan die arm gegryp en haar in die voertuig probeer intrek. Sy het Louise aan haar arm vasgehou maar die man het aan haar gesê dat hy haar sal skiet as sy nie los nie. “Hy het haar uit my hande getrek,” het sy in trane getuig.

ʼn Huurder wat ten tyde van De Waal se moord op Steyn se eiendom gewoon het, Hermanus Mulder, sê hy het die dag van die moord ʼn vrou in Steyn se motor gesien. Mulder het ook emosioneel geraak toe hy verduidelik het hoe die polisie Steyn se bakkie deursoek en op De Waal se rugsak afgekom het. “Dis daai bliksem,” het Mulder met trane in sy oë geskree terwyl hy na Steyn gewys het. Steyn het vroeër die dag onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom. Die verhoor duur vandag voort.

Steyn (35) staan tereg op twee aanklagte van moord, 11 aanklagte van verkragting, 10 aanklagte van seksuele aanranding, een van poging tot seksuele aanranding, 10 aanklagte van ontvoering, een van poging tot onvoering en twee aanklagte van aanranding. Steyn word aangekla van die moord op De Waal en Lazanne Farmer (14). De Waal is in Oktober verlede jaar ontvoer terwyl sy en ‘n vriendin op pad skool toe was in Randburg. Haar verkoolde lyk is dieselfde dag op ‘n verlate plaas in Magaliesburg gevind. Steyn het hom die volgende dag by die Margate-polisiestasie in KwaZulu-Natal oorgegee. Farmer en ’n 16-jarige vriendin is Sondag 5 September 2010 in Elandspoort in die weste van Pretoria ontvoer. Farmer het uit die ontvoerder se bakkie na haar dood gespring. Haar vriendin is glo hierna in ’n beboste gebied verkrag. Steyn se jongste slagoffers was glo twee 11-jariges. Die “Sondagverkragter” word verbind met verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.