“Ek wens ek kon haar help,” sê broer

Sylvia Theologo het ná die hofuitspraak gesê sy is tevrede. Foto: JacaNews / Twitter

Sylvia Theologo het ná die hofuitspraak gesê sy is tevrede. Foto: JacaNews / Twitter

Kirsty Theologo se broer het Vrydag aan die Johannesburgse hooggeregshofsitting in Palm Ridge gesê hy wens hy kon sy suster red.

“Ek is nie kwaad vir julle nie, ek is kwaad vir God, maar ek voel kwaad omdat ek haar nie kon help nie,” het Alex Noble aan die twee mans, wat skuldig bevind is aan sy suster se moord, gesê. “Ek het in koue sweet wakker geword, gedink dit is ‘n nagmerrie, ek het oor en oor daarvan wakker geword,” het hy tydens die vooraf vonnisverrigtinge gesê.

Hy het vertel hoe hy op 21 Oktober 2011 na sy suster gaan soek het. Dit is die aand wat sy tydens ‘n sataniese ritueel met ‘n klip oor die kop geslaan en aan die brand gesteek is nadat petrol oor haar uitgegooi is. Die voorval het op ‘n koppie in Linmeyer, suid van Johannesburg, plaasgevind.

Theologo (18) het ‘n paar uur later erg verbrand by die huis aangekom. Sy het ‘n week later in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Haar vriendin, wat in daardie stadium 14 jaar oud was, het die aanval oorleef.

Noble het in die getuiebank verskyn en gesê hy aanvaar die verskoning van sy suster se moordenaars, die neefs Robin Harwood en Lindon Wagner. Hulle is Donderdag skuldig bevind aan moord, aanranding en poging tot moord.

Harwood en Wagner se ma’s het ook die getuiebank ingeneem en die Theologos gesmeek om hulle en hul seuns te vergewe. Harwood se ma, Deidre Moses en Wagner se ma, Vanessa Arendse, het gesê hulle het begrip vir [Sylvia] Theologo se pyn. “Ek wil graag aan Silvia [Kirsty Theologo se ma] sê dat, as ‘n ma, is ek jammer vir die verlies van haar dogter. Wees sterk vir jou kinders se onthalwe,” het Moses gesê. “Ek kan verstaan wat sy [Sylvia Theologo] deurgaan. Ek hoop sy kan ons en ons kinders vergewe,” het Arendse gesê.

Sylvia Theologo het gehuil en met haar kop op haar ma se skouer gelê terwyl sy na die verrigtinge geluister het. Sy het vroeër in die getuiebank verskyn en aan die hof gesê haar familie het verander. “My kinders blameer my omdat ek hulle ma is en ek was veronderstel om haar te beskerm,” het Sylvia gesê. Sy sê haar seun Alex het nie meer respek aan enigiemand betoon nie en het aggressief geword. Sy kan Wager en Harwood nooit vergewe nie, en gesê as hulle vergifnis soek, moet hulle dit van God af kry. “Ek het gedink dit is goeie, Christelike kinders.”

Sy sê sy het sedertdien medikasie begin gebruik, maar kry berading.

Theologo se tienervriendin wat die aanval oorleef het, het ook in die getuiebank verskyn. “Ek vergewe julle, omdat ek eendag ook wil hê die Vader moet my vergewe wanneer ek in die hemel kom,” het sy gesê. Sy het ‘n serp aangehad om die brandmerke in haar nek en op haar bors weg te steek. “Van die bopunt tot die bodem van my hart vergewe ek julle. Ek mis die tye wat ons gehad het.”

Gail Sidwell, vir Harwood, het aan die meisie gesê haar kliënt beplan om eendag ‘n werk te kry en al sy inkomste aan haar te stuur, moontlik vir plastiese sjirurgie. “Hy kan dit aan die ou agter my gee,” het sy gesê, en aangedui dat sy nie belang stel nie. Sy sê sy sal nooit intiem kan verkeer met ‘n man nie, weens haar letsels. Haar lewe het verander en haar verhouding met haar ma het skipbreuk gely. Sy bly tans saam met ‘n familie wat sy op ‘n kerkkamp ontmoet het.

Regter Geraldine Borchers het Vrydag gesê sy is geskeduleer om ‘n operasie te ondergaan en sy kan eers op 11 Februarie 2014 uitspraak lewer.

Sylvia Theologo het hierop in trane uitgebars. “Nee, ek kan dit nie meer doen nie. Ek is klaar, ek wil hê dit moet klaarkry,” het sy gesê. Familielede het haar getroos. Buite die hof het sy aan verslaggewers gesê dat sy verheug was ná Donderdag se uitspraak, en het gedink alles sal binnekort verby wees.

Ses mense is aanvanklik aangekla vir Theologo se moord en poging tot moord op haar vriendin. Harvey Isha is Donderdag vrygespreek van alle aanklagte. Die enigste vrou in die groep, Courtney Daniels (18), is skuldig bevind aan aanranding nadat sy remvloeistof voor die aanval in die slagoffers se drankies gegooi het. Sy is tot ses maande tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is. Twee ander mans, Lester Moody en Jeremy King, het vroeër skuldig gepleit op hul rol in die moord en is elk 17 jaar tronkstraf opgelê, waarvan vyf jaar opgeskort is.

Lees ook:
“Sataniese ritueel”: Skuldiges vandag gevonnis
“Sataniese-ritueel”: Uitspraak gelewer
‘Sataniese-ritueel’: Slotbetoë word gelewer
‘Sataniese ritueel’: Meesterbrein glo “emosioneel onvolwasse”
‘Sataniese ritueel’: Beskuldigde het glo God gevind
‘Sataniese ritueel’: Hof hoor hulle wou siele verkoop
‘Sataniese ritueel’: Regter siek, saak uitgestel
‘Sataniese ritueel’: Beskuldigde het mag gesoek
‘Sataniese ritueel’: Getuienis bevraagteken
‘Sataniese ritueel’: Theologo se saak uitgestel
‘Sataniese ritueel’: Kirsty is twee keer gewurg
‘Sataniese ritueel’: Theologo se aanvaller getuig
‘Sataniese ritueel’: “Ek is nie die dier nie”
‘Sataniese ritueel’: Meisie wis glo niks van moordplanne
‘Sataniese ritueel’: Getuienis bevraagteken
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer is “braaivleis” genoem 
‘Sataniese ritueel’: Kirsty was glo “prostituut” van die Bybel
‘Sataniese ritueel’: Bloed op ‘n brandende Bybel gestort
‘Sataniese ritueel’: Skokkende onthullings
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer wou letsels in hof wys
‘Sataniese ritueel’: Kirsty wou glo geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.