‘Ek wil hemel toe gaan’ sê vrou aan aanvallers

ʼn Bejaarde vrou van Cullinan het aan haar aanvaller gesê haar laaste wens is om hemel toe te gaan terwyl sy in ʼn kas toegesluit was en haar huis aan die brand gesteek is, het die hooggeregshof in Pretoria Maandag gehoor.

Die getuienis is vervat in ʼn verklaring deur een van die mans wat beskuldig word van die moord op Piet van den Berg (64) en poging tot moord op sy vrou Madelein op hul kleinhoewe buite Cullinan in Julie 2009. Regter Vivian Tlhapi het vroeër beslis dat Mphanyana Given Kanyane se verklaring aan ʼn landdros as getuienis toelaatbaar is. Kanyane beweer hy het die verklaring onder dwang afgelê. Kanyane, Mduduzi Sbusiso Hlengethwa en Wonder Mbongezini Makwakwa het onskuldig gepleit op die aanklagte van moord, poging tot moord en roof. Van den Berg is doodgeskiet tydens die voorval terwyl sy vrou vasgebind en in ʼn kas toegesluit is waarna die huis aan die brand gesteek is. Kanyane het verder in sy verklaring aangevoer dat hy en Makwakwa besluit het om die Van den Bergs te beroof. Hulle het egter glo hierteen besluit waarna hulle Hlengethwa ontmoet het en hy glo aan hulle gesê het dat hy ʼn visvangmes het en ʼn “professionele rower” is. Die drie mans het hierna na die Van den Bergs se huis gegaan waar hulle op die “ou man” gewag het om uit te kom, hom oorval het en op geld en vuurwapens aangedring het. Hy het ʼn vuurwapen aan hulle gegee en ook vir hulle gewys waar die kluis is.

Van den Berg het glo probeer ontsnap waarna hy doodgeskiet is. Madelein is vasgebind en in die slaapkamer se kas toegesluit. Hlengethwa het glo haar man se klere aangetrek waarna hy ʼn sigaret aangesteek het en begin het om papiere in die huis aan die brand te steek. Kanyane het glo hierna aan Madelein gevra wat haar laaste woorde is. “Sy het aan my gesê sy wil hemel toe gaan.” Van den Berg het die drie verdagtes uitgewys as die mans wat haar en haar man aangeval het. Van der Berg het tevergeefs probeer om haar man se lyk uit die huis te sleep. Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.