“Ek wil hom vergewe en probeer vergeet wat gebeur het”

Johannes Kleinhans

Een van pedofiel Johannes Adolf Kleinhans se slagoffers het glo twee keer probeer selfmoord pleeg.

Twee verklarings, een deur die meisie en een deur haar ma, is Donderdag in die Parow-streekshof in Kaapstad voorgehou. Die verklarings beskryf hoe beide oor die voorvalle van seksuele en onsedelike aanranding gevoel het.

Kleinhans (74) moet deur landdros Amanda van Leeve op 95 aanklagte, insluitend die besit van kinderpornografie, gevonnis word. Hy was, voor sy inhegtenisneming, direkteur van verskeie maatskappye en hoof uitvoerende beampte van een maatskappy.

Staatsaanklaer Herculine Swart het verskeie dokumente en verklarings Donderdag vir die vonnisoplegging ingedien. In een van die verklarings het die meisie beskryf hoe “geskok” en “skaam” sy ná die voorval gevoel het. “Ek was baie selfbewus en teruggetrokke, en ek moes ‘n las van geheime dra wat ek nie met my beste vriendinne kon deel nie,” lui die verklaring. “Dit het my sosiale lewe en sosiale vaardighede beïnvloed.”

Weens die tyd wat nou reeds sedert die voorvalle verloop het, kon sy dit verwerk en sy is nou “amper oor dit”. “Ek wil hom vergewe en probeer vergeet wat gebeur het,” het sy gesê.

Die meisie se ma het in haar verklaring gesê sy blameer haarself vir dít waardeur haar dogter moes gaan. Sy het ure lank met haar dogter spandeer om haar te oorreed om weer in haarself te glo. “Dit het vir ‘n ruk lank goed gegaan, maar toe het sy probeer selfmoord pleeg deur haarself in haar kamer op te hang,” het die ma gesê.

Die dogter is weens die selfmoordpoging in die hospitaal opgeneem. Sy het 14 dae lank in ‘n geslote kamer in die hospitaal aangehou voordat die ma haar weer kon huis toe vat.

“My dogters het gemoedskommelings beleef weens die voorval en sy het later ‘n tweede keer probeer selfmoord pleeg deur ‘n oordosis pille te drink. “Sy gaan nou gebuk onder geweldige depressie wat haar skoolvordering beïnvloed,” het die ma gesê.

Vonnisoplegging duur op 29 Januarie voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

louise ·

Ek wens ons kon nog maak soos in die Bybelse tyd en hom stenig! sodat hy stadig en pynlik kan sterf!
Dit is so onmenslik wat sieklike ou fosiele mans aan jong dogters in die fleur van hul lewe doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.