Eksklusiewe onderhoud met dr. Mamphela Ramphele: “Samewerking, nie samesmelting”

Dr. Mamphela Ramphele Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Dr. Mamphela Ramphele Foto: Burger Meyer/Maroela Media

NOTA: Dr. Mamphela Ramphele het in ʼn eksklusiewe onderhoud met Maroela Media haar kant van die saak gestel. Die DA is genader vir hul kommentaar op die berig en ons sal hul reaksie plaas sodra ons dit ontvang. – Red.

Dr. Mamphela Ramphele, leier van Agang SA, het Dinsdag in ʼn eksklusiewe onderhoud met Maroela Media gesê die aanvanklike ooreenkoms met die Demokratiese Alliansie was nie samesmelting nie, maar samewerking en dat dié misverstand tot die vertrouensbreuk gelei het.

Ramphele sê sy is gekant teen die DA se inslukbeleid, en tydens aanvanklike gesprekke was die ooreenkoms dat Agang SA en ander kleiner partye ʼn dubbelspoor sou volg.

Volgens Ramphele was die DA se aanvanklike behoefte om homself te herposisioneer in die politieke speelveld. “Die DA trek slegs tussen 4 en 5% van die swart kiesers se stemme,” het sy verduidelik. “Maar my teenwoordigheid sou nie die weersin jeens die DA verander het nie.”

Sy sê volgens die SA Instituut vir Rasseverhoudinge het 60% van swart kiesers aangedui dat hulle nie vir die DA kan stem nie. “Hulle is oortuig dat die DA hulle na apartheid sal teruglei.”

Teen hierdie agtergrond, sê sy, het sy voorgestel dat ʼn platform geskep word waar kleiner partye soos die UDM en Cope betrek kan word waar almal gemaklik kan voel om saam te werk. Die idee was om só ʼn platform teen die middel van die jaar te vestig, gebaseer op gesprekke met die kleiner partye.

Ramphele sê die kleiner partye is almal besorg om saam met die DA te werk, weens dié party se inslukbeleid, en dat hulle moontlik in ʼn hoek gedryf sou word.

Sy sê Agang SA was van die begin af toegewyd om die politieke ruim te herbelyn. “Terwyl die ANC die monopolie het, sal die party onverantwoordbaar bly. Dan vrees die regerende party nie die kiesers nie.”

Ramphele sê die DA is nie slegte mense nie, maar hulle begryp nie dat die DA die DA sal bly nie. “Selfs swart personeel in die DA verduidelik dit aan die hand van ʼn vergelyking met die Ben Schoeman-snelweg. Al noem ons dit nou die N1, ken ons die geskiedenis, en ry jy nog steeds op die Ben Schoeman-snelweg,” verduidelik sy. “Dit is iets wat die DA nie begryp nie.”

“Die ANC geniet 80% van die swart steun in Limpopo, maar die idee dat ek, wat uit ʼn klein dorpie in Limpopo kom, ʼn alternatief kon bied, het ʼn opgewondenheid veroorsaak, iets waarop hulle trots kan wees,” sê sy. “Die persone het iemand gesoek wat hul taal kon praat, wat hul behoeftes kan verstaan.”

Die afsterwe van oud-president Nelson Mandela, die verbrokkeling van Cosatu en Numsa se blinde steun aan die ANC, die verswakking van die ANC-jeugliga en die stigting van EFF het die behoefte vir samewerking groter gemaak, sê sy.

Volgens Ramphele het sy en Helen Zille, leier van die DA vergader en daar is voorgestel dat hulle komplementêr moet saam werk. “Ons het Agang SA se sterkpunte en swakpunte opgestel, en die DA het sy sterk- en swakpunte opgestel. As ons ons sterkpunte kon saamspan, sou dit tot ʼn geloofwaardige alternatief gelei het. Ons sou saamkom om ʼn verandering te bring.” Ramphele het verduidelik die doel was om bo rasgebaseerde politiek uit te styg – om nie meer die sogenaamde identiteitspolitiek te volg nie.

“Solank as wat identiteitspolitiek voortduur, waar witmense vir witmense stem en swartmense vir swartmense, sal die ANC onverantwoordbaar bly.”

Ramphele sê dieselfde het in Zimbabwe gebeur, waar die vryheidsbeweging homself as die vors aangestel het.

Sy meen die mense van Suid-Afrika word weer deur die ANC in slawerny gehou. “ʼn Tekort aan opleiding en opvoeding lei daartoe dat mense nie vry kan dink nie. MIV/Vigs het gesinne vernietig en die maatskaplike vesel van families vernietig: kinders moet nou kinders grootmaak. Daar is nie veiligheid en sekuriteit nie. Die huise wat deur die ANC aan mense verskaf word, is slegter as die huise wat die apartheidsregering verskaf het. Mense in HOP-huise lê met hulle voete by die deur uit, so klein is die huisies, maar die mense is onder die indruk dat dit beter is as niks nie, so hulle stem steeds vir die ANC.”

Sy sê die ANC se beleid om kospakkies (soos in Tlokwe, Noordwes) en maatskaplike toelaes aan 16 miljoen mense te verskaf is die hoogtepunt van vernedering. Daardie persone het geen keuse wat hulle wil eet nie. “Dít is hoe min die ANC arm mense respekteer. Geen land kan oorleef om maatskaplike toelaes aan 16 miljoen mense te verskaf nie.”

Tydens die gesprek met Helen Zille het Ramphele, volgens haar, voorgestel dat hulle saamwerk, en dat die twee partye op verskillende plekke verkiesingsveldtogte hou, om seker te maak dat hulle soveel as moontlik mense bereik.

Sy verduidelik dat die ooreenkoms met die DA was dat ʼn persverklaring uitgereik sou word om die samewerking aan te kondig, en dat die tegniese besonderhede van dié samewerking binne sewe of 10 dae deur ʼn tegniese komitee bepaal sou word.

“Patricia de Lille het die Sondag, voordat die persverklaring [waarin die DA haar as presidensiële kandidaat aanwys] uitgereik is, gesê die verkiesingsproses moet nie gekompliseer word nie; die komplementêre veldtog kan dadelik aankondig word en die strukturele proses kan later deur ʼn tegniese komitee bepaal word.”

Ramphele verduidelik dat slegs die nasionale leierskapsraad ʼn samesmelting kan goedkeur: sy as individu kan haarself slegs daartoe verbind om die proses van samewerking te lei, maar nie om dit namens die organisasie [Agang SA] te aanvaar nie. “Ek het dit vergelyk met sakeman Whitey Basson se verskillende kettingwinkels soos Shoprite, Checkers en OK Bazaars: die maatskappye kan almal saam onder een sambreel werk.”

Sy sê sy wil glad nie betrokke raak in ʼn “sy sê, ek sê”-debat nie.

“Ek was nog altyd ʼn konsulterende leier, maar soms moet leiers die besluit neem. Ek het ingestem dat ons moet saamwerk.”

Ramphele verduidelik daar is nie ʼn presidensiële verkiesingsproses in Suid-Afrika nie. “Kiesers stem vir ʼn party en daardie party besluit wie is die president.”

Sy sê die DA het egter ʼn persverklaring uitgereik waarin hulle aandui dat Ramphele ʼn vorm moet onderteken en ʼn DA-lid moet word. “Om Agang SA te vernietig, om ʼn bate te vernietig, maak nie sin nie. Ek erken ek het te veel vertrou. Die tegniese komitee is nie eers saamgestel nie.”

Ramphele sê sy was ook gekant teen ʼn optog na Luthuli House. “Die DA en Agang SA sou ʼn veldtog begin om saam te werk teen werkloosheid, maar ʼn optog na Luthuli House sou uitdagend gewees het. Die ooreenkoms was dat daar ʼn byeenkoms by Beyers Naude-plein sou plaasvind en dat die samewerking daar aangekondig sou word. Dít is die persverklaring wat ek aanvaar en goedgekeur het.”

Sy sê die twee partye se styl verskil te veel, alhoewel die waardes van die twee partye dieselfde is: menswaardigheid, gelykheid en die noodsaaklikheid van die Grondwet. “Hoe daardie waardes uitgeleef word kom egter na vore in jou leierskapstyl; jou verhouding met die res van jou span.”

Volgens haar het die DA vir haar ʼn ultimatum gestel: “Vat dit, of los dit.” “Hier het ʼn rooi vlag vir my opgegaan. My kollegas het my aangeraai dat ek nie kan voortgaan nie.”

Ramphele wou eers met die leierskap van Agang SA konsulteer om die proses te bespreek, maar Zille het glo vir haar gesê dit moet dadelik gedoen word, hulle kan nie aanhou om te konsulteer nie. “Die verskille in styl is die kern van die verbrokkeling.”

Ramphele sê sy is nie ʼn instrument van disrespek jeens Agang nie. “Daar is duidelike prosesse, die nasionale leierskapsraad moet die finale goedkeuring gee.”

Sy sê sy is hartseer, want Suid-Afrika het hierdie deurbraak nodig.

“Daar is talle van ons wat dieselfde waardes van menswaardigheid, respek, gelykheid en eenheid deel, maar ons laat toe dat ander mense hierdie fondasie en waardes ondermyn. Ons benodig inklusiewe politiek, en nie identiteitspolitiek nie.”

Sy sê kiesers moet registreer om te stem, en dan vir die alternatief, naamlik Agang SA, stem. “Ons het nie bagasie nie. Ons bied ʼn tuiste vir elkeen. Dit is ʼn tuiste vir oud en jonk.”

Ramphele sê vroue is die ankers van families, maar hulle is al vir te lank onderdruk, en tot stilte mishandel, tot stilte verkrag. Agang bied veral ondersteuning vir vroue en die jeug.

“Suid-Afrikaners met gedeelde waardes moet hulself nie weerhou van die verkiesing nie, en hulle moet nie pragmaties stem nie. Kiesers moet kragtens hul waardes stem.”

Sy sê die antwoord vir werkloosheid in Suid-Afrika indiensopleiding. “Daar is talle gegradueerdes wat in die straat rondloop en nie werk kry nie.” Volgens haar wil Agang van alle SETAs ontslae raak en daardie geld aanwend vir indiensopleiding.

Die party wil ook klein- en medium ondernemings aanmoedig en seker maak dat monopolieë nie die mark oorheers nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

se ek ook ·

Sy lieg deur haar tande. Hoekom sal Helen haar as Presidensiële kanidaat aanstel as dit net vir saamewerking was. As so so openlik kan lieg hoe sal dit wees as sy al die mag en toegang he tot ons land se geld koffers? Maar beter dat hulle haar nou uitgevang het voordat dit te laat is.

henk celliers ·

Sy maak die ideaale politikus uit,onbetroubaar,leunaar,alles net vir eie gewin.Al wanneer n politikus die waarheid praat is as hy se n ander politikus lieg.Viva Afrika!!!

Barnie ·

Net soos ek gedink het presies soos n politikus dink em probeer regeer. Geluk Helen die HERE het jou goeie vetstand gegee. Ek sider as ek dink waar was ons oppad met haar

jJ H Vorster ·

N guide geleentheid vir broodnodige samewerking ,wat so noodsaaklik is vir ons land se voortbestaan het platgeval deur swak hanteering van die aangeleenthei. Ek betreur dit
regtig.Probeer weer want die poging wat aangewend is,bewys datdaar n behoeftedaarvoor
bestaan.Baie sterkte aan ons leiës .Ons bid vir julle
J H Vorster

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.