Eksotiese diere vrek by OR Tambo – DBV gryp in

argieffoto

argieffoto

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging het ingegryp om ‘n besending reptiele en amfibiese diere wat op die Johannesburgse Lughawe in ‘n vragarea agter gebly het, te red. Baie van die 1 600 diere het reeds gevrek.

‘n Slegte reuk het inspekteurs se aandag getrek.

Die diere was op pad van Madagaskar na Amerika om ten duurste as eksotiese troeteldiere verkoop te word, toe ‘n aantal vlugte gekanselleer is. Die DBV sê in ‘n sterk bewoorde verklaring, hoewel dit wettig is om die diere te verhandel, is die praktyk baie wreed. Al die diere word in die natuur gevang en dan vir die vervoeraksie in lapsakkies en plastiekpype gedruk om almal saam sonder enige water of kos in houers ingedruk te word.

In dié geval was die 1 600 diere, insluitend geitjies, paddas, verkleurmannetjies, en verskillende soorte akkedisse, in twee houers van 54 cm X 53 cm X 53 cm ingedruk.

Hulle was reeds minstens vyf dae sonder water voor die DBV op hulle afgekom het. Die oorlewende diere word by die Johannesburgse Dieretuin en deur die Staatsveeartsenydiens behandel.

Ainsley Hay van die DBV se Natuurlewebeskermingseenheid sê mense wat eksotiese en bedreigde diere as troeteldiere wil aanhou, moet besef dat dit hulle is wat die lyding veroorsaak. “As daar nie ‘n mark is nie, sal die diere nie uit hulle natuurlike omgewings gesteel word nie.”

In 2008 is daar op ‘n soortgelyke besending beslag gelê. Ainsley sê ondanks die grootste sorg moontlik, het daar maar enkele diere oorleef. Hy sê: “Wild animals belong in the wild.”

Bron: ProAgri

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.