Eksvrou sleep man glo agter bakkie

Die slagoffer se vrou, Jeanette Morris, haar broer, Harold Anderson en ‘n vriendin, Joan Hobart Foto: Volusia County Sheriff

Robert Hall (54) van Florida in Amerika is erg beseer nadat sy eksvrou ‘n skokgeweer op hom gebruik en agter ‘n bakkie aan gesleep het.

Jeanette Morris (61) het Hall glo vir byna ‘n kilometer ver op ‘n grondpad gesleep voordat hy ontsnap het, het die Volusia sheriff se kantoor gesê. Die man is in die hoësorg-eenheid by Halifax-gesondheidsentrum in Daytona Beach waar hy vir ‘n gebreekte pelvis, gebreekte gesigbene en bloeding op die brein behandel word.

Die aanval het in die plattelandse deel van New Smyrna Beach, ‘n gewilde Florida-vakansiedorp, plaasgevind waar Hall steeds in Morris se huis gebly het terwyl sy as vragmotorbestuurder gewerk het. Die twee het glo ‘n ooreenkoms gehad dat Hall steeds in die huis kon aanbly terwyl Morris nog $1 300 vir haar eksman geskuld het. Morris het vermoed dat Hall sy meisie ook in die huis laat bly het en het toe gereël het dat ‘n polisiebeampte haar Dinsdagaand huis toe vergesel om ‘n konfrontasie te vermy. Die polisiebeampte het die huis verlaat nadat Morris gesê het sy gaan die aand by haar broer se huis deurbring.

Morris en haar broer, Harold Anderson (63) en ‘n vrou, Joan Hobart (46) het toe saam met Hall begin vodka drink. Die drie het Hall oorval, hom drie keer met die skokgeweer geskok, in die gesig geslaan en hom toe met ‘n vuurwapen aangehou. Hulle het Hall se hande agter sy rug vasgebind, sy voete aan mekaar vasgebind en die tou agteraan die Ford F150-bakkie vasgemaak.

Ná sowat ‘n kilometer het die bakkie gestop en die drie het Hall agterin gegooi, van sy hare afgesny en glo gesê dat hulle sy kopvel gaan afsny en hom in ‘n gat gaan begrawe. Toe die bakkie weer wegtrek, het Hall afgespring en by ‘n huis om hulp gaan aanklop.

Morris, Anderson en Hobart word elk van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, ontvoering en aanranding aangekla. Hulle word sonder borg aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.