Eksvrou vas na moord op SA man in Thailand

Oswald Heinrich Duvel. Foto: Facebook

Oswald Heinrich Duvel (50) se eksvrou, haar ma en nog ‘n man is in hegtenis geneem nadat Duvel se liggaam Sondag langs ʼn vlak graf aan die voetheuwels van die provinsie Saraburi, noord van Bangkok, gevind is.

Lt. Gen. Nares Nanphathote, ʼn polisiewoordvoerder, sê Duvel se eksvrou en haar ma het erken dat hulle hom vermoor het. Duvel is drie keer geskiet en het net sy horlosie en ‘n onderbroek aangehad toe sy lyk gevind is. Nanphathote sê Duvel en sy eksvrou was glo in ʼn toesigstryd om hulle driejarige seuntjie gewikkel. Duvel het glo vermis geraak nadat hy Saterdagoggend sy huis in Bangkok verlaat het om vir sy seuntjie by sy eksvrou se huis te gaan kuier. Duvel se eksvrou het glo aan hom gesê om saam met haar en haar ma in hulle Toyota Fortuner te sit sodat hulle oor die toesig van hulle seuntjie kan praat. ʼn Man het glo agter die sitplek in die Fortuner weggekruip en Duvel doodgeskiet nadat hulle begin praat het. Volgens berigte is die skieter die eksvrou se nuwe man terwyl ander berigte beweer hy is haar aangenome broer. Duvel se eksvrou, haar ma en die ander man is in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.