El Niño, nie klimaatsverandering, dryf droogte in Suider-Afrika – studie

droogte-riaan

(Argieffoto: Riaan Roux)

Volgens wetenskaplikes ly meer as 20 miljoen mense in Suider-Afrika honger weens ʼn droogte wat hoofsaaklik deur die El Niño-weerpatroon gedryf word – en nie deur klimaatsverandering nie.

Zambië, Zimbabwe en Malawi het reeds ʼn nasionale ramp oor die uiterste droogte verklaar. Dit het in Januarie begin, oeste en weivelde vernietig en die landbousektor op sy knieë gedwing.

Hakainde Hichilema, president van Zambië, het noodlenigingshulp van byna $900 miljoen gevra en die gebrek aan reën met klimaatsverandering verbind.

Die World Weather Attribution-navorsingsgroep (WWA) het egter bevind aardverwarming het min daarmee te doen.

“Oor die afgelope jaar het toeskrywingstudies getoon dat baie uiterste weergebeurtenisse gedryf is deur ʼn kombinasie van klimaatsverandering en die El Niño-weerverskynsel,” sê Joyce Kimutai, verbonde aan die Imperial College in Londen.

“Die droogte in Suider-Afrika blyk ʼn skaarser voorbeeld te wees van ʼn gebeurtenis wat hoofsaaklik deur El Niño aangevuur word,” sê Kimutai.

Luidens ʼn studie wat op Zimbabwe, Botswana, Zambië en Mosambiek fokus, is daar bevind dat reënval in die streek tussen Desember en Februarie toegeneem het, die hoogtepunt van die reënseisoen in die streek.

Volgens die studie het neerslae waarskynlik soortgelyk gebly omdat hoër temperature tot meer waterverdamping lei, het die navorsers bevind.

Data het egter aangedui dat El Niño, ʼn herhalende natuurlike weerverskynsel, minder reën opgelewer het, wat die moontlikheid van rampdroogtes verhoog het.

“Saam dui die resultate daarop dat El Niño, eerder as klimaatsverandering wat deur die mens veroorsaak is, vanjaar die hoofdrywer van die droogte in Suider-Afrika was,” sê die groep.

Die wydverspreide toename in oppervlaktemperature in die sentrale en oostelike ekwatoriale Stille Oseaan word met El Niño gekorreleer.

Dit kom gemiddeld elke twee tot sewe jaar voor, lei wêreldwyd tot warmer weer en duur gewoonlik nege tot 12 maande. Die huidige El Niño-verskynsel het middel verlede jaar ontstaan en sal na verwagting temperature tot Mei beïnvloed.

Watertekorte, veral in Zambië en Zimbabwe, het ook uitbrekings van cholera en ander wateroordraagbare siektes vererger, volgens die WWA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OneWheel ·

Sê dit asb vir daardie dame wat die wingerd oorplant ook…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.