Elektrisiteitsvoorsiening gaan volgende twee weke onder druk wees

EskomEskom het kennis gegee dat elektrisiteitsvoorsiening oor die volgende twee weke beduidend laer sal wees omdat Eenheid 1 van die Koeberg-kernkragsentrale in die Wes-Kaap vir langer as sewe weke vir geskeduleerde brandstofinname, inspeksie en instandhouding afgeskakel gaan word.

Elektrisiteitslewering sal laer wees totdat twee steenkoolaangedrewe opwekkers na afloop van onderhoudswerk weer in gebruik geneem word.

Elk van die twee eenhede by Koeberg word elke 16 tot 18 maande vir brandstofinname, inspeksiedoeleindes en instandhouding afgeskakel. Die afskakelings word so beplan dat hulle nie tegelykertyd plaasvind nie. Eenheid 2 by Koeberg sal dus gedurende hierdie tydperk op vol sterkte voortgaan.

Die kragreus het aangedui dat die geskeduleerde afskakeling by Eenheid 1 deel uitmaak van sy oorhoofse instandhoudingsprogram vir sy vloot kragstasies en na verwagting nie ʼn tekort aan elektrisiteitsvoorsiening aan die Wes-Kaap of die res van die land sal veroorsaak nie, maar het bygevoeg dat instandhoudingswerk by verskeie ander kragsentrale-eenhede, wat in verskillende stadiums van vordering is, verdere druk op die elektrisiteitsvoorsieningsnetwerk plaas.

Só lyk Suid-Afrikaners se kragverbruik:
Inligting oor Suid-Afrikaners se kragverbruikpatrone uit die jongste Algemene Huishoudingsopname deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) toon:

  • Suid-Afrikaners begin om minder elektrisiteit te gebruik om kos voor te berei.
  • Die hoeveelheid huishoudings wat toegang het tot elektrisiteit, het tussen 2002 en 2012 van 77,1% tot 85,3% toegeneem.
  • Daar is steeds meer as 1 miljoen Suid-Afrikaanse huishoudings wat nog geen toegang het tot elektrisiteit nie.
  • ’n Halfmiljoen mense verkry op informele of onwettige maniere toegang tot elektrisiteit.
  • Nagenoeg 10% van armer Suid-Afrikaners se elektrisiteitsverbruik word vir beligting aangewend terwyl 90% van dié Suid-Afrikaners se kragverbruik vir verhitting en die voorbereiding van maaltye gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Conrad ·

Ek voel nie baie jammer vir die elektrisiteits kriesis waarin die land sit nie. My rede is as jy in die Kaap ry of hier in Gauteng en mens sien die onwettige koppelings in die townships wat soos spinnerakke lyk vanaf die elektrisiteitspale, kan mens nie anders as om te dink dat die elektrisiteitsverbruik hoog sal wees nie. Wanneer hulle die probleem aangespreek het, of probeer aanspreek, sal ek my weer steur aan waarskuwings dat elektisiteitsverbruik hoog is. Dink hulle vir een oomblik hulle gaan krag probeer spaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.