Tegniese probleme met die landingsmeganisme het ʼn Emirates-passasiersvliegtuig genoop om Woensdagmiddag ʼn noodlanding op Kaapstadse Internasionale Lughawe te doen, het die lugredery gesê.
Fouad Caunhye, streeksbestuurder vir Emirates Suid-Afrika, het gesê dat vlug EK773, oppad na Dubai, wat om 13:55 by Kaapstad opgestyg het, om 15:20 na Kaapstad teruggekeer het nadat ʼn tegniese probleem met die landingsmeganisme ontwikkel het. “In geen stadium was die lewens van die 243 passasiers of bemanning in gevaar nie,” het Caunhye gesê. “Die passasiers word van hotelverblyf voorsien en ʼn vlug is vir môremiddag geskeduleer.” ʼn Woordvoerder vir die lughawe het gesê dat die noodlanding geen invloed op die lughawe se aktiwiteit gehad het nie.