ENB se nuwe advertensie

Eerste Nasionale Bank (ENB) het Sondag volblad-advertensies in vier nasionale koerante geplaas na hy die ANC om verskoning gevra het vir sy “Jy kan help”-veldtog.

Die advertensies wat in die Sunday Times, City Press, Sunday Independent en Rapport geplaas is, is geskryf om soos ʼn gedig te lyk, in vyf strofes wat elk met die sin: “Ons help want ons glo” begin. Dit eindig met die woorde: “Ons help want ons glo waar daar hulp is, is daar ʼn weg.” Die Sunday Times het berig dat Sizwe Nxasana, uitvoerende hoof van First Rand, Maandag ʼn SMS-boodskap gestuur het aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, nadat een van die kinders glo na haar verwys het as “breinloos” in een van die video’s van die veldtog. “Goeiemore minister. Ek het ENB opdrag gegee om die videogrepe van sy webtuiste te verwyder. Ek sal ondersoek instel oor hoekom en hoe die videogrepe op die webtuiste beland het. Opregte apologie hiervoor.”

Die ENB-veldtog behels ʼn aantal videos waarin kinders in skooluniforms hulle hoop vir die land uitspreek. ENB het Donderdag met ANC-leiers, waaronder Gwede Mantashe, vergader. Die bank het Vrydag om verskoning gevra. Die verskoning is wyd gekritiseer op sosiale media. Daar is intussen ook vandag berig dat die ANC ‘n rekeninghouer is by ENB.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.