Enkele onderbrekings by registrasiepunte

StembusKieserregistrasie het Saterdag by die meeste registrasiepunte regoor Suid-Afrika vreedsaam plaasgevind, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gesê.

“Voorvalle van betogings deur die gemeenskap het kieserregistrasie in ‘n beperkte aantal gebiede geraak,” het Mosotho Moepya, hoof verkiesingsbeampte van die OVK, aan verslaggewers in Pretoria gesê. “Dié gebiede sluit Bekkersdal in Gauteng, Sterkspruit in die Oos-Kaap, Malamulele in Limpopo, die Joe Morolong-munisipaliteit in die Noord-Kaap en Lansdowneweg in die Wes-Kaap in.”

Volgens Moepya het verkiesingsbeamptes in al hierdie gebiede nou saam met sekuriteitsmagte, gemeenskapsleiers, politieke partye en ander belanghebbendes saamgewerk om te verseker dat inwoners se regte, om te registreer om te stem, nie geraak word nie en dat registrasiepunte weer sou gou as moontlik bedryf kan word.

Hy sê 99.7% van 22 263 verkiesingstasies het teen Saterdagmiddag omstreeks 15:00 normaal funksioneer. Hy sê alle registrasiepunte wat gesluit is, sal so gou as moontlik weer oopgemaak word. “Al die stasies, wat deur onderbrekings geraak is, sal definitief Sondag beskikbaar wees.”

“In gevalle waar ons personeellede moes vervang sal dit ook so gou as moontlik afgehandel word. Personeellede het in sommige gevalle onttrek weens intimidasie,” het Moepya gesê. Hy sê personeellede wat aan intimidasie blootgestel is, het uit die registrasieproses onttrek. Hulle was lede van die gemeenskap in die onderskeie gebiede.

Registrasiepunte in Bekkersdal is Saterdag tydens middagete ontwrig. Een persoon het tydens ‘n gemeenskapsbetoging by die Joe Morolong-munisipaliteit die gebou betree en die registrasiemateriaal aan die brand gesteek. Daar was ook gevalle waar die registrasiepunt nie betyds kon oopmaak nie, omdat die plek ‘n dubbelbespreking gehad het, persone wat die gebou moes oopsluit laat opgedaag het en personeellede wat uit die proses onttrek het.

Verkiesingsbeamptes het ook gevalle aangemeld weens ‘n probleem met die tydelike infrastruktuur en verkiesingsbeamptes wat, onderweg na die registrasiepunte, in twee voertuigongelukke betrokke was.

Verkiesingsbeamptes het ook laat opgedaag by ‘n registrasiepunt weens ‘n trop olifante op die pad na Point Drift, naby Mapungubwe aan die Botswana-grens.

“Die OVK het vanjaar ook, om bewusmaking te skep, ‘n Facebook-blad en Twitter-rekening oopgemaak,” het Moepya bygevoeg. “Dit is baie gewild.”

Indien jy onseker is of jy geregistreer is om te stem of waar jy geregistreer is om te stem, kan jy ‘n SMS na 32810 stuur met jou identiteitsnommer (R1-00 per SMS). Besoek die OVK se webwerf om die registrasiepunt naaste aan jou op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.