Entrepreneurskompetisie vir hoërskoolleerders skop af

Vandag se jongmense kom voor baie struikelblokke op die pad na die toekoms te staan. Hul wêreld lyk baie anders as die prentjie van die verlede.

Helpende Hand, ʼn niewinsgewende organisasie, verstaan dié werklikheid waarmee jongmense te doen het. Die organisasie sê hulle wil daartoe bydra dat jongmense nie slagoffers word nie, maar as oorwinnaars in die arbeidsmark staan. Daarom het Helpende Hand ʼn unieke entrepreneurskompetisie vir skoliere van stapel gestuur, waarin tonne geld gemaak kan word.

Die kompetisie behels dat deelnemers ʼn bemarkingsplan vir hul beplande besighede moet opstel. Deelnemers sal met behulp van gratis opleidingsvideo’s gelei word om dié planne op te stel en sodoende die kans te staan om hul besigheid ʼn finansiële hupstoot te gee.

Ná registrasie sal die deelnemers toegang kry tot ses opleidingsvideo’s wat op die opstel van ʼn goeie sakeplan fokus. Sakeplanne sal dan voorgelê word, waarna 50 deelnemers landswyd na die tweede ronde van die kompetisie sal deurdring. Tydens hierdie ronde sal die deelnemers met die hulp van die volgende reeks van ses video’s leer hoe om ʼn bemarkingsplan saam te stel. Die tien beste kandidate sal dan die geleentheid kry om hul volledige sake-idee aan ʼn paneel voor te lê, waarna die wenners aangekondig sal word.

“As ʼn mens van jongs af entrepreneuriese vaardighede aanleer, sal jy die gereedskap hê om die toekoms meer suksesvol aan te pak. Verder sal hierdie vaardighede vir jou ʼn plan B gee wanneer jy uitdagings in die werksplek ervaar. Met ʼn entrepreneuriese ingesteldheid kan jy jou beroep kombineer met jou eie onderneming en uiteindelik vir jouself eerder as iemand anders werk,” het Karin Venter, ʼn woordvoerder van Helpende Hand, gesê.

Venter het gesê die organisasie wil deur unieke entrepreneursopleiding aan almal die geleentheid bied om ʼn entrepreneuriese ingesteldheid te ontwikkel, hul vaardighede op te skerp en meer oor die besigheidswêreld te leer.

Die kompetisie word vir graad 8- tot 12-leerders aangebied en deelname is gratis. Die prysgeld beloop R50 000. Die wenner sal R15 000 ontvang om in sy of haar beplande besigheid te belê. Daarby sal die wenner se skool R15 000 ontvang om vir entrepreneursontwikkeling aan te wend.

Besoek www.helpendehand.co.za vir volledige inligting of stuur ʼn e-pos na [email protected] vir navrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.