Entrepreneursterrein vir laerskool danksy boerbokke

Leerlinge het tot Vrydag 2 Mei om in te skryf vir Helpende Hand se entrepreneurskompetisie.

Leerlinge het tot Vrydag 2 Mei om in te skryf vir Helpende Hand se entrepreneurskompetisie.

Laerskool Dagbreek in Carletonville het besluit om ʼn entrepreneursterrein te bou met die R15 000 prysgeld wat Eddie Pienaar, die wenner van verlede jaar se Solidariteit Helpende Hand entrepreneurskompetisie, vir sy skool gewen het.

Die terrein sal aangewend word vir die skool se entrepreneursdae en sodoende help om besigheidsvaardighede by die skool se leerlinge te ontwikkel.

Eddie het dié entrepreneurskompetisie gewen met sy besigheidsplan vir sy boerbokboerdery. Klik hier om meer te lees. Eddie het R15 000 vir sy eie besigheid ontvang en ʼn reuse skenking van tien stoetooie en ʼn stoetram van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging. Die wenners van die entrepreneurskompetisie se skole het ook prysgeld ontvang wat vir entrepreneursontwikkeling aangewend kan word.

Steve Moscos, adjunkhoof van Laerskool Dagbreek, het gesê die skool se entrepreneursdag word tans op die stoepe gehou, wat enkele probleme skep. “Ons gaan die entrepreneursterrein oprig weg van die ander geboue waar daar genoeg skaduwee vir die kinders is,” het Moscos gesê. “Daar word ook elektrisiteit by die beoogde terrein aangelê wat leerders se entrepreneursdag sal vergemaklik.”

Entrepreneursopleiding is deel van die graad 7-kurrikulum en al die graad 7-leerlinge moet op die skool se entrepreneursdag hulle produkte voor die hele skool uitstal. “Personeel doen die beoordeling tydens die verkope ten opsigte van oorspronklikheid, netheid en vriendelikheid. Ons glo hier gaan nog baie mooi dinge in die toekoms hier uitkom,” het Moscos bygevoeg.

Vanjaar se entrepreneurskompetisie vir graad 6 tot 12-leerling het reeds in Februarie geopen en leerlinge wat hieraan wil deelneem, het tot Vrydag 2 Mei om hulle besigheidsidees in te handig. Helpende Hand poog om deur hierdie kompetisie die probleem van werkloosheid onder die jeug aan te spreek deur hulle vroegtydig met entrepreneursvaardighede te bemagtig.

Die kompetisie word vanjaar vir die tweede keer aangebied en die totale prysgeld beloop R60 000. Die wenner sal weer wegstap met R15 000 wat hulle in hulle beplande besigheid kan belê terwyl die leerling se skool ook R15 000 sal ontvang, wat aangewend kan word entrepreneursontwikkeling. Leerlinge kan inskryf op www.loopbaan.co.za en deelname is gratis. Kontak Joey Lotter by [email protected] vir enige navrae oor die kompetisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.