Erge koue, sneeu dreig Kaap-provinsie

Argieffoto.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Maandag gewaarsku dat die ongewoon matige weerstoestande wat die land die afgelope ruk ervaar het, van Dinsdag af gaan verander, veral in die Kaap-provinsie.

“ʼn Kouefront wat reën en koue, winderige weersomstandighede oor die suid-westelike gedeelte van die Wes-Kaap gaan veroorsaak, kan verwag word. Dié toestande sal oor die res van die Wes-Kaap versprei. Dit sal teen Dinsdagaand na die suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap en westelike gedeeltes van die Oos-Kaap uitbrei,” het die weerdiens in ʼn verklaring gesê.

Teen Woensdag behoort die front in ʼn oostelike rigting na die res van die land te beweeg. Wydverspreide reënbuie word dan in die Wes- en Oos-Kaap verwag, met swaar neerslae by die Kaapse suidkus by die Kaapse Wynlande, Overberg en Eden. “Die publiek word gewaarsku vir die moontlikheid van vloede in dié gebiede.”

Sneeuval word vroeg Woensdagoggend voorspel veral oor die suid-westelike berge van die Wes-Kaap en Noord-Kaap. Dit sal ook ooswaarts versprei en behoort Lesotho teen Donderdag te bereik. “Dié uiterste weerstoestande gaan erge koue veroorsaak wat met sneeu gepaard gaan, nie net op berge nie, maar ook by sekere laagliggende plekke. Die publiek moet kennis neem dat veral sekere bergpasse moontlik kan sluit weens swaar sneeuval.”

Die weerdiens sê egter in kontras met die Kaapse weer, gaan Gauteng, Mpumalanga en Limpopo tot Donderdag matige weersomstandighede hê. “ʼn Kouefront gaan Gauteng Donderdag tref en koue, winderige weerstoestande veroorsaak met ʼn kans vir ligte reën. Dié toestande behoort tot Saterdag voort te duur.”

Besoek www.weathersa.co.za vir meer inligting of volg @SAWeatherServic op Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.