Sewe mense is dood en 41 beseer nadat ʼn Iveco-midi-bus en ʼn Nissan Sentra mekaar Sondagoggend vroeg op die N2 buite Ermelo in Mpumalanga getref het.
“Een van die voertuie het vermoedelik ʼn ander voertuig om ʼn draai op die N2, sowat 20 km buite Ermelo, verbygesteek en die voertuie het mekaar reg van voor getref,” het Werner Vermaak, woordvoerder vir ER24, gesê. “Ses van die mense wat in die bus gery het, is dood. Die sewende is die bestuurder van die Nissan Sentra.”
Altesaam 36 passasiers in die bus en vyf in die motor is vir beserings behandel. Twee mense is met die impak uit die voertuie geslinger.
“Van die beseerdes moes uit die wrakke gesny word,” het Vermaak gesê.
Paramedici is omstreeks 02:30 na die toneel ontbied en was drie en ʼn half ure lank op die toneel om die beseerdes te stabiliseer en na hospitale toe te neem.
Spoedige herstel aan al die beseerdes. Aan die families wat mense aan die dood moes afstaan, sterkte.