Eskom het Ermelo ook op kragsny-lys

Eskom het nou hul visier op die Ermelo-munisipaliteit en waarsku hulle sal in April kragtoevoer na dié dorp sny as die munisipaliteit nie hul agterstallige rekening betaal nie.

Dit volg nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof laat Woensdagmiddag ‘n dringende interdik aan die burgerregte-organisasie AfriForum toegestaan het waarvolgens Eskom verbied is om vandag die Matlosana-munisipaliteit van Klerksdorp se krag af te sny. Volgens die interdik moet die munispaliteit ook met Eskom ooreenkom oor die terugbetaling van sy agterstallige rekening van R91,8 miljoen. Lees meer hier.

AfriForum het vandag gesê hy beoog om die hof namens die lede van sy Ermelo-tak te nader om te keer dat Eskom hul krag afsny.

Eskom het ʼn kennisgewing gepubliseer waarin daar gestel word dat elektrisiteitsvoorsiening aan die munisipaliteit op 25 April gestaak sal word, omdat die munisipaliteit Eskom R65 miljoen skuld.

“Dit is ʼn tipiese situasie waar die munisipaliteit nie sy verpligting teenoor Eskom nagekom het nie, hoewel die inwoners hul munisipale rekeninge betaal het. En tog is dit nou die inwoners wat deur die breuk in elektrisiteitsvoorsiening benadeel gaan word. Ons moet ons taklede na die beste van ons vermoë beskerm teen die onbevoegdheid van die plaaslike munisipaliteit,” sê Ivan Herselman, adjunkhoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Lede van die gemeenskap wat graag by die plaaslike tak wil aansluit, kan die woord “Ermelo” SMS na 31488.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.