Eskom kondig noodtoestand aan

EskomEskom het Donderdag ʼn noodtoestand in die land se elektrisiteitstoevoer aangekondig en ʼn beroep gedoen op groot nywerheidskliënte om kragverbruik met ten minste 10% te verminder.

“Die kragstelsel is vandag onder groot druk weens die verlies van bykomende kragopwekkingseenhede van ons kragstasievloot, ʼn vermindering van ingevoerde krag, en die uitgeputte noodreserwes,” het Eskom in ‘n verklaring gesê.

Dit het Eskom gedwing om ‘n noodtoestand te verklaar in ooreenstemming met sy beleid en regulasies om die nasionale kragnetwerk te beskerm.

Eskom het skedules vir beurtkrag op sy webwerf gepubliseer, maar gesê dit word net as ʼn “voorsorgmaatreël” gedoen.

“Alhoewel ons alles in ons vermoë gaan doen om te verhoed dat beurtkrag toegepas moet word, is ons vol hoop dat ons die las kan verminder en die nasionale netwerk kan beskerm indien ons die nodige maatreëls tref en elke elektrisiteitverbruiker ons ondersteun en krag spaarsamig gebruik.”

Die noodtoestand sal tot 21:00 Donderdagaand duur, wanneer die situasie hersien sal word.

Winkelsentrums, kantoorblokke en kleinhandelaars word versoek om warmwatertoestelle af te skakel en lugversorgers op 23 grade Celsius te stel om krag te bespaar. “Wanneer werknemers vanmiddag huis toe gaan, versoek ons dat alle ligte afgeskakel word behalwe ligte wat vir veiligheidsdoeleindes benodig word. Ons versoek ook dat alle lugversorgers oornag afgeskakel word.”

Residensiële kliënte is gevra om alle warmwatertoestelle, lugversorgers, ligte en nie-noodsaaklike elektriese toerusting tussen 17:00 en 21:00 af te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trippie ·

Ek voldoen aan AL hulle versoeke, maar die hemel alleen weet, week vir week, naweek vir naweek sit ek sonder elektrisiteit. Vanoggend 01:50 tot 06:10, naweke standaard op ‘n Vrydag of Saterdagaand, dan skyn die son nog, tot die volgende dag wat die son weer opkom.

WAAROM, wanneer ek ry, helder oor dag, brand baie straatligte steeds ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.